Valentynsdag 2013 sal ek nooit vergeet nie. Dit was my eerste as getroude vrou, my verwagtings was hemelhoog. En mnr. Van Jaarsveld het nie teleurgestel nie. Die Donderdagmôre van 14 Februarie is ek met koffie in die bed, ’n vars geplukte roos en ’n La Senza-geskenkbewys wakker gemaak. Die dag kon skaars beter begin.
Tot ek die berig – dit was ’n vinnige nuusflits met brekende nuus kort ná seweuur – op die radiostasie 702 gehoor het. Half aangetrek en met ’n vuurwarm haartang in die hand het die woorde my yskoud gelaat. En naar.
“The Paralympian Oscar Pistorius has shot his girlfriend . . .”