My brief aan die Joost wat ek ken...

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Joernaliste is ook maar net mens, en soms kruip ’n storie onder hul vel in, skryf Huisgenoot se destydse adjunkredakteur in ’n brief aan ’n man oor wie sy haar span verslaggewers gereeld laat skryf. Hier is die brief van Nadia Honiball.
Joost en Nadia, die skrywer van die brief. Foto: V
Joost en Nadia, die skrywer van die brief. Foto: Verskaf

Hallo, Joost

Ek wik en weeg al baie lank om hierdie brief vir jou te skryf. Ek het al baie briewe vir jou geskryf, maar hierdie een is anders. Dis nie ’n amptelike brief oor werk nie.

Dis nie die adjunkredakteur van Huisgenoot wat die volk se rugbyheld ’n storie vra nie. Dis ’n gewone brief van my aan jou.

Weet jy ons ken mekaar al 10 jaar? Oor ’n dekade het ons paaie heen en weer gekruis, en al is dit ’n kernbeginsel van die joernalistiek om nooit te betrokke te raak nie, is dit nie so maklik om niks te voel vir iemand aan wie jy op sulke monumentale oomblikke van sy lewe so naby was nie.

Ons paaie het net te veel gekruis, daar is net te veel van die rekord af gesê, oor die jare het ek net te veel pyn in jou stem gehoor en in jou oë gesien.

Eintlik het ek tot hierdie besef gekom toe ek so ’n paar maande gelede toevallig by die werk op jou broer Pieter se Facebook-blad ’n foto van jou sien. Jy het maer geword en jou arms en hande was skeefgetrek, jou kop skuins, jou gesig verwronge.

Die foto het my ontstel. Ek het skielik gedink aan die dag dat ek die nuus gaan hoor – na alle waarskynlikheid terwyl ek met my hardgebakte tawwe-tieniehouding in my kantoor sit – dat jy weg is.

Ek het na jou foto gestaar en begin huil. Enkele trane. En ek het besef dit maak nie saak hoe ek dit gaan probeer wegsteek nie, op daardie dag gaan ek in my binneste ween en oor jou rou.

Want al is ek ’n joernalis wat net my werk doen, is ek ook net ’n mens. En ons paaie het net te veel gekruis, daar is net te veel van die rekord af gesê, oor die jare het ek net te veel pyn in jou stem gehoor en in jou oë gesien, dat ek bloot nie omgee nie.

Ons verhouding het mettertyd so ontwikkel dat ek nou al weet jy sal jou liederlik vervies as jy moet lees ek skryf iewers oor jou sonder dat ek jou gevra het voor ek dit die wêreld instuur. Dis nog ’n rede waarom ek liewer vir jou ’n brief skryf.

Ek ken jou en weet wat jou kwaad maak en kalmeer.

In die verlede was jy al ontelbare kere vies vir my, maar jy het my elke keer vergewe. Ek weet as ek as myself skryf, reguit met jou praat en myself een keer blootstel, sal jy miskien dié keer minder kwaad wees.

Het ek jou ooit vertel waar ek jou die eerste keer gesien het?

Dit was in 2006 agter die Skouspel-verhoog. Jy en Amor Vittone was saam. Vooraf was ek baie opgewonde daaroor om al die Afrikaanse sangers te sien, veral manne soos Dozi, Theuns Jordaan en Kurt Darren.

Joost en sy vervreemde vrou, Amor Vittone, by Huis
Joost en sy vervreemde vrou, Amor Vittone, by Huisgenoot-Skouspel 2006. Foto: Jacques Stander

Ek was te bang om myself voor te stel, of dalk te skaam . . . Ná die tyd, toe baie mense my vra hoe dit agter die verhoog was, het ek vir almal gesê: “Ek het Joost gesien!”

Ek weet jy is lankal verby die punt waar komplimente of mooi woordjies enige indruk op jou maak. So dis net my kant van die storie dié – vir jou om te lees in hierdie dae dat ek weet jy baie tyd het om te lees.

Onthou jy die eerste keer dat ons mekaar werklik ontmoet het? Dit was die jaar daarna by die YOU Spectacular by Emperors Palace. Ek en Amor het ons soos volslae bakvissies gedra.

Onthou jy ons het dadelik gekliek en ontsettend lekker gekuier? Later die aand het jy nog vir ons by die kroeg shooters gekoop.

Joost, ek onthou baie spesifiek hoe jy daardie aand drie keer uitgeloop het om jou skoonma te bel; jy wou seker maak jul kinders is nog orraait.

Amor het my daai aand vertel jy is die beste pa wat sy haar kinders kon toewens.

Die Van der Westhuizens toe alles nog goed gegaan
Die Van der Westhuizens toe alles nog goed gegaan het. Foto: Mdu Ndzingi

Kort daarna het dinge verander. En ek weet daar is niks op die hele aarde wat jy meer haat as wanneer mense oor daai video praat nie. Die hele land weet in elk geval wat gebeur het, so ek gaan dit nie hier herhaal nie.

Maar wat ek jou nooit vertel het nie, is dat ek deur ons eindelose gesprekke in daardie tyd die ware Joost leer ken het. Ek het jou keer op keer gebel en jou gekonfronteer met die allerverskriklikste bewerings – sommige so erg en verregaande en komende van aandagsoekers dat ek dit nooit sal herhaal nie.

Joost was dwarsdeur die navorsing vir hierdie storie baie beleefd en ordentlik en ’n ware gentleman.

Maar daar was ook die ander – dié waarop ons antwoorde moes kry. En nooit, nie ’n enkele keer, het jy my verkwalik omdat ek jou bel nie. Jy was nie een keer ongeskik nie.

Dwarsdeur daardie ondenkbare storm waardeur jy gegaan het, het jy my nooit blameer nie.

Ek wonder nou nog hoekom nie. Was dit omdat jy die media verstaan het of omdat jy besluit het jy gaan wat jou kant toe kom soos ’n man vat? Of was dit omdat jy my ook as net ’n mens gesien het?

Ek het nooit vir jou dankie gesê daarvoor nie.

En dis nie asof ’n mens onderaan ’n Huisgenoot-storie kan skryf “Joost was dwarsdeur die navorsing vir hierdie storie baie beleefd en ordentlik en ’n ware gentleman” nie. Maar hier is dit nou, vir die wêreld om te lees.

Dit het gevoel of my hart ophou klop toe ek met die trap na jul voordeur opstap en jou met groot moeite voet vir voet sien skuifel na die gemakstoele waar ons sou kuier.

Selfs in die tyd toe ek en Amor omtrent elke tweede aand ure lank oor die foon gesels het, het jy my nie kwalik geneem nie. Jy moes tog geweet het hoe sy my alles en meer vertel. En steeds het jy dieselfde gebly.

Toe was daar daardie een laat November-aand nadat jy siek geword en ek by jou en Amor se huis gaan kuier het. Dit was nadat jy al uitgetrek het. Sy het jou genooi, en ek het nog van jou gesien en van wie jy eintlik is.

Dit het gevoel of my hart ophou klop toe ek met die trap na jul voordeur opstap en jou met groot moeite voet vir voet sien skuifel na die gemakstoele waar ons sou kuier.

Dit was die eerste keer dat ek met motorneuronsiekte (MNS) te doen gekry het. Jy het oop en eerlik daaroor gepraat – elke liewe vraag beantwoord, selfs die baie persoonlikes.

Nadat Joost siek geword het. Foto: Mdu Ndzingi
Nadat Joost siek geword het. Foto: Mdu Ndzingi

Dit klink seker nou simpel, maar ek het daardie aand gewonder hoe op aarde dinge so kon skeefloop, want jy en Amor was ooglopend nog verlief op mekaar.

Onthou jy, nie ek of sy kon die bottel rooiwyn se kurk uitkry nie? Teen daai tyd kon jy beswaarlik op jou eie eet, maar jy het daai bottel beetgekry en die kurkprop vir ons vroue met jou tande uitgedraai.

Onthou jy hoe ons drie daaroor gelag het? Dis seker bisar om dit oor te vertel, maar op daardie oomblik was dit baie snaaks en alles was normaal en oukei.

En toe die kers baie later die aand op die servette omval en dit vlam vat, het ek en sy gegil, maar jy het blitsvinnigwater gegryp en dit op die vlamme gegooi.

Ek onthou daai vonkel in jou oog. Jy het baie duidelik gedink ons is laf, maar jy het dit innerlik ontsettend geniet om steeds die held te wees. Ten spyte van die siekte het jy jou humorsin behou. Ek het daai aand besef MNS sal nooit jou gees kan blus of jou siel kan steel nie.

’n Siek Joost vier Kersfees saam met sy kinders. F
’n Siek Joost vier Kersfees saam met sy kinders. Foto: Martin de Kock

Soos die tyd aangestap het, was daar nog soveel stories: jou laaste vakansie in Mauritius, jou laaste Kersfees (wat toe nie jou laaste Kersfees was nie), jou planne vir die jaar wat voorlê, weer ’n jaar wat nie jou laaste was nie.

Toe, op ’n dag, kan ek glad nie meer uitmaak wat jy oor die foon sê nie. Een van die mense by jou het die foon gevat en verder gepraat. Ek het jou nooit vertel hoe hartseer ek ná daardie oproep gevoel het nie; ek het geweet my foon sal dalk weer lui met Joost wat op die skerm wys, maar dit sal nie jou stem aan die ander kant wees nie.

Nes die laaste keer dat ek jou sien loop het, die laaste keer dat ek self met jou kon praat en jy kon saampraat.

Maar wat van al die duisende laastes waardeur jy nou al moes gaan? Onthou jy die laaste keer dat jy jou kinders ’n drukkie kon gee? Of die laaste keer dat jy kon skryf? Of praat?

Onthou jy die spesifieke oomblik toe jou stem finaal stil geword het?

Nou kan jy nog net jou oë beweeg. Ek het jou mos vertel my kleintjie (hy is nou al 14) is fanaties oor rugby, so dis heeldag net SuperSport op TV.

By ’n herinnering aan sy gloriedae. Foto: Martin d
By ’n herinnering aan sy gloriedae. Foto: Martin de Kock

En soms wys hulle jou op die veld – veral daai laaste oomblikke van die Wêreldbeker in 1995 toe jy deel was van Joel Stransky se towerskepskop.

Ek sê elke keer vir my seun: “Kyk vir Joost. Dis die Joost wat ek ken.” Ek sê dit met ’n knop in my keel, want ek dink elke keer aan jou nou, waar jy op die oomblik moet wees. En ek wonder of jy ook hartseer is wanneer jy jouself in daai wedstryd sien.

Soms lê ek in die nag wakker en wonder of jy ook wakker is. Ek dwing myself om so lank moontlik glad nie te beweeg nie. Ek probeer my indink hoe dit vir jou moet voel om snags wakker te wees en jy kan nie beweeg nie. Jy kan niemand roep nie. Al wat jy kan doen, is wag.

Later kon hy nie meer self regop sit nie. Foto: Tu
Later kon hy nie meer self regop sit nie. Foto: Tumelo Leburu

Dan raak ek vreesbevange terwyl ek so lê en dink hoe jy moet voel. Maar jy druk deur, want jy weet die oggend gaan kom, en jy wil leef.

Soos jy onlangs baie gefrustreerd in ’n e-pos vir my uitstippel: Net omdat jou lyf nie werk nie, beteken nie daar is fout met jou brein nie, want “my brein werk nog 100 persent”.

Ek weet dit, Joost. Dis hoekom ek jou selfs meer bewonder, want watter mens met ’n gesonde verstand kan so lank so dapper en so sterk teen so ’n siekte veg? En ja, ek weet goed jou veggees brand nog sterk.

As Joost kan terugbaklei en voortbeur, wie is enige van ons ander om sommer net tou op te gooi?

Kan ek mense maar vertel hoe kwaai jy met my raak wanneer ons iets skryf waarvan jy nie hou nie of vrae vra wat jou irriteer? Maar hoe kwaaier jy is, hoe meer geniet ek dit. Want ek weet jy is nog hier. En daar is net een soos jy. Ek salueer jou.

Want ek weet jy het vrede gemaak met jou verlede, jouself en, die belangrikste, met God. Wat meer kan enige van ons aan die einde van ons lewe vra?

Jy is gereeld in my gedagtes. Ek dink veral aan jou wanneer ek ondankbaar of geïrriteerd of moedeloos voel. Wie is ek om te kla? As Joost kan terugbaklei en voortbeur, wie is enige van ons ander om sommer net tou op te gooi?

Ek hoop jy slaap vanaand rustig. En dis die een keer dié dat ek myself die reg gaan gee om ’n brief aan jou so te eindig:

Jou vriendin,

Nadia

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.


Jongste uitgawe

9 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees