Ons fotograaf moes twee keer in ’n tronksel tussen misdadigers sit, mense het dag en nag met verkykers op ons gespioeneer (tot binne in ons slaapkamers), motors het ons agtervolg en ek moes ’n fotograaf in my kattebak by ’n meenthuis se motorhuis insmokkel om deur ’n gordynskrefie steelfoto’s te neem.
Kyk, toe Brad Pitt en Angelina Jolie in April 2006 met ’n klein weermag in Namibië aanland sodat sy die lewe kan skenk aan hul eerste biologiese kind, Shiloh, moes ons joernaliste slim planne beraam om ’n leër van wagte te ontduik en ons storie te kry.
Angelina het vroeër, tydens die verfilming van die rolprent Beyond Borders, op Namibië se woestynwêreld verlief geraak. Sy en Brad het in 2006 reeds twee aangenome kinders gehad: Zahara (toe 15 maande) vanuit Ethiopië en Maddox (4) van Kambodja.