Toe vet Careltjie van Aswegen van Dealesville iewers in die vroeë 2000’s op sy maerste was, is ek en die fotograaf John Liebenberg saam met hom Bloemfontein toe vir ’n fotosessie. Wie besluit het Carel moet ’n makeover kry, kan ek vandag nie meer onthou nie.
Dit kon Carel self gewees het. Hy het ’n bittersoet verhouding met die media gehad en talle van die stories oor hom – goed en sleg – het begin met ’n oproep wat hy self na ’n joernalis gemaak het. Of dit kan wees dat die opdrag gekom het van “Die Kaap”, soos ons Johannesburgers Huisgenoot se hoofkantoor in Kaapstad genoem het.
Noudat Carel, eens byna 300 kg, amper by sy droomgewig van 100 kg was en Careltjie-koors op sy hoogste, het die tydskrif ’n stel foto’s nodig gehad om die volk te wys al die hongerly en gebede was nie verniet nie.