Deel

Agtjarige meisie verruil gesin se fortuin vir lewe as non

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die kaalvoetmeisie – geklee in ’n wit sari – stap van deur tot deur en vra vreemdelinge vir aalmoese.
non
Devanshi Sanghvi op die Hindoe-seremonie waar sy afstand gedoen het van haar rykdom en ’n non geword het. Foto: Instagram/@devanshi_diksha_danam

Net ’n week tevore was Devanshi Sanghvi (8) die erfgenaam van haar ouers se multimiljoendollar-diamantryk.

Devanshi is die oudste van Dhanesh en Ami Sanghvi se twee dogters. Die paartjie is die eienaars van Sanghvi and Sons, ’n winsgewende diamantvervaardiger en handelaar in Indië.

Devanshi het haar erfporsie opgegee om ’n Djain-non te word. Djainisme is ’n antieke Indiese godsdiens wat klem lê op geen geweld, ’n vegetariese leefstyl en ’n liefde vir alle lewende dinge. Haar ouers het die seremonie bygewoon waarin sy alle wêreldsdinge prysgee.

Sy het ’n goue kroon gedra en haar geloftes gemaak voor senior Djain-monnike en tienduisende mense wat kom kyk het.

Ná die seremonie het sy by die ander nonne aangesluit, met ’n wit sari oor haar vars geskeerde kop.

“Sy kan nie meer by die huis bly nie, haar ouers is nie meer haar ouers nie, sy is nou ’n Sadhvi (non),” sê Kirti Shah, ’n Soerat-gebaseerde diamanthandelaar en ’n familievriend. 

“’n Djain-non lei ’n eenvoudige lewe. Sy sal nou oral moet stap, sy mag nooit enige vervoer gebruik nie, sy sal op ’n wit laken op die vloer slaap en kan nie ná sononder eet nie,” voeg hy by.

“Devanshi het godsdienstige neigings getoon sedert sy ’n kleuter was,” sê Nirav Shah, nog ’n familievriend.

Haar familie het die dag voor die seremonie ’n groot optog in Soerat gehou om haar af te sien. Duisende mense het gekom om die optog van tromspelers, dansers en steltkunstenaars te sien.

Devanshi en haar gesin het in ’n wa gery wat deur ’n olifant getrek is terwyl omstanders hulle met roosblare bestrooi het.

Maar nie almal dink dis ’n goeie idee nie, en sommige bevraagteken of ’n kind van Devanshi se ouderdom in staat is om ’n ingeligte besluit oor die res van haar lewe te neem.

“Sy is ’n kind, wat verstaan sy van dit alles?” het ’n man, slegs bekend as mnr. Shah, in die Indian Times, gevra.

“Kinders kan nie eens besluit wat om in kollege te studeer tot hulle 16 is nie. Hoe kan hulle ’n besluit neem oor iets wat hul hele lewe sal beïnvloed?”

Dr. Bipin Doshi, wat klas gee oor die Djain-filosofie by die Moembai-universiteit, verskil hiervan. “Jy kan nie regsbeginsels in die geestelike wêreld toepas nie,” sê hy.

“Sy mag dalk van die tradisionele vermaak ontneem word, maar is dit regtig nodig vir almal? En ek stem nie saam dat sy van liefde of opvoeding ontneem sal word nie. Sy sal liefde van haar ghoeroe ontvang en sy sal eerlikheid leer en om nie verknog aan wêreldsdinge te wees nie.

"Is dit nie beter nie?

Bipin voeg by Devanshi kan altyd ophou om ’n non te wees as sy van plan verander of glo dat “sy die verkeerde besluit onder die hipnotiserende invloed van haar ghoeroe geneem het”. 

Bronne: Bbc.com, timesnownews.com, Indianexpress.com, sanghvisions.com

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

23 Maart 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees