Die vrou (66), wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, het aan vroeë demensie, angstigheid en depressie gely.
Personeel by die sorgsentrum in Iowa waar dié bejaarde gewoon het, het vroeg in Januarie gemeen sy is dood en haar in ’n lyksak na ’n nabygeleë krematorium gestuur.
Maar toe lykshuiswerkers dié sak oopmaak, kon hulle sien hoe die vrou se bors beweeg en sy na haar asem snak.
Die nooddienste is ontbied en hulle kon ’n hartklop vind. Sy is hospitaal toe gehaas.
Daarna is sy na die sorgsentrum teruggestuur, maar sy is toe twee dae later régtig dood.
Intussen het die personeellid wat haar by die sorgsentrum vir dood aangesien het, aan ondersoekers vertel dié vrou het op 3 Januarie nie 'n polsslag gehad of asemgehaal nie. Sy het haar nog vyf minute dopgehou en die begrafnisondernemer en ’n verpleegster ontbied. Ook nie hulle het enige teken van lewe by haar bespeur nie en sy is in ’n lykswa gelaai.
Ná die ondersoek is die tehuis met $10 000 (sowat R175 000) beboet omdat hulle versuim het om voldoende vas te stel of die vrou dood is al dan nie.
Lisa Eastman, uitvoerende direkteur van die Glen Oaks Alzheimer's-sorgsentrum, het in ’n verklaring gesê die tehuis gee baie om vir sy inwoners en dat alle werknemers gereeld opleiding kry oor hoe om inwoners wat op sterwe lê, voldoende te versorg.
Geen kriminele klag is ingedien nie, het ’n polisiewoordvoerder, sers. Corey Scheden, aangedui.
Bronne: find-it.co.za, telegraph.co.uk, mirror.co.uk, coventrytelegraph.net, abcnews.go,com