book-icon Uitgawe 8 Julie 2021

Anneline Kriel gesels uit Mauritius – stralend op 65

akkreditasie
Die ikoniese Huisgenoot-voorblad van haar in April 1978 het die tonge behoorlik laat klap. Foto: Huisgenoot argief
Die ikoniese Huisgenoot-voorblad van haar in April 1978 het die tonge behoorlik laat klap. Foto: Huisgenoot argief

In haar lang blonde lokke speel ’n silwer haar hier en daar wegkruipertjie. Maar waar sy haar nou op die rand van ’n swembad in die son uitstrek, is Anneline Kriel steeds ’n skoonheid wat die koppe sal laat draai.

As jy nie geweet het dat sy in 1974 as 18-jarige dramastudent die Mej. Wêreld-kroon vir ons huis toe gebring het nie, sou jy nooit kon raai dat sy al 65 somers beleef het nie. 

Hoe kry sy dit reg om haar jare met soveel grasie te dra? Vra jy na haar skoonheidsgeheime, kom die antwoord met daardie bekende, lieflike glimlag: “Daar is nie eintlik ’n geheim nie, maar ek probeer natuurlik op my ouderdom die beste lewe lei wat ek kan.”

Dan verduidelik sy: “Ek dink die grootste voorreg wat ek het, is dat ek gelukkig is. Ek is gelukkig in my lewe en my omgewing, en ek voel net heeltemal tevrede met myself.”

Dis eintlik juis danksy die ouderdom, voeg sy by. “’n Mens aanvaar meer jou omstandighede. Toe ek jonk was, het ek dinge probeer en kanse gevat. Ek dink as ’n mens ouer raak, waardeer jy meer wat jy het en wat om jou is as om te wil hê wat ander het.”

Vir die afgelope dekade het Anneline uit die kollig verdwyn nadat sy en haar man, die sakeman Peter Bacon (74), op die prentjiemooi eiland Mauritius gaan nesskop het. 

Dis juis vanuit haar huis op Mauritius waar Anneline vandag op die rekenaarskerm deur Zoom met Huisgenoot gesels en waar sy ook model speel vir ons spesiale fotosessie met ’n plaaslike fotograaf, Eric Lee Kam Chung, wat dadelik ingestem het om die beroemde skoonheid vir ons voorblad af te neem. 

Op die eiland wat Anneline deesdae huis noem, geniet sy die asemrowende natuurskoon, die uitgestrekte wit strande, die helderblou water en die oggendbriesie wat deur die gordyne waai terwyl voëls nou uitbundig op die agtergrond kwetter. 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees