Baba weens seldsame genetiese toestand met ‘permanente glimlag’ gebore

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Klein Ayla Summer Mucha is ’n baie ongewone baba – dit lyk asof sy 24 uur per dag glimlag.

Dit beteken nie sy is altyd gelukkig nie. Die kind is met ’n seldsame toestand gebore wat dit laat lyk asof sy permanent van oor tot oor glimlag. En hoewel dit haar opvreetlik oulik maak, is dit eintlik ’n gebrek wat onder meer veroorsaak dat sy sukkel om te drink sonder om te mors.  

Ayla het bilaterale mikrostomie, wat beteken haar mondhoeke het nie heeltemal saamgegroei toe sy in haar ma se baarmoeder was nie. By sommige babas beteken dié toestand ’n spleet vorm aan een van hul wange, en by sommige beteken dit splete aan albei wange. 

Haar ouers, Cristina Vercher (21) en Blaize Mucha (20), van Suid-Australië, was geskok toe die diagnose gemaak is. Ayla is hul enigste kind. 

“Ek en Blaize het nie van die toestand geweet nie en ek het nog nooit iemand ontmoet wat daarmee gebore is nie,” sê Cristina.

Die ma sê sy het haarself vir die diagnose verkwalik. “Maar ná dae van genetiese toetse en skanderings het verskeie dokters my en haar pa verseker die toestand is heeltemal buite beheer en is glad nie ons skuld nie.”

Mikrostomie is so ongewoon dat dit net by 150 000 tot 300 000 geboortes voorkom. Aangesien dit voeding vir babas bemoeilik, word ouers gewoonlik aangeraai om die kind ’n operasie te laat kry sodat dit reggestel kan word.

Volgens dr. Shuchin Bajaj, ’n mediese spesialis, word hierdie soort spleet meestal aan die regterwang gesien en kom dit veel meer gereeld by seuns voor.

In Ayla se geval “is die splete die gevolg van onbehoorlike ontwikkeling en samesmelting van die gesigsbene en kaak,” sê hy. Terwyl hulle voorberei vir die chirurgie wat Ayla later sal ondergaan, deel haar ouers video's van haar op TikTok. 

Baie mense sê haar glimlag laat hul hart vermurwe, maar nie almal is ewe gaaf nie. Party sosialemedia-trolle gaan so ver as om gemene kommentaar te laat soos dat sy “gebreklike lippe” het en dat sy “nie glimlag nie; dit word ’n geboortegebrek genoem”.

“Maar ek en Blaize ontvang ewe veel liefde en steun as negatiewe kommentaar,” sê Cristina. “Ons sal nie ophou om ons ervarings en herinneringe te deel nie, want ons is baie trots.” 

Bronne: Mirror, Daily Mail, New York Post 

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by ‘Huisgenoot’ se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”. 
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!  


Jongste uitgawe

11 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in