Hy het jare lank kinders wêreldwyd voor die skerm vasgenael gehou, produkte met sy naam en gesig daarop het van die rakke gevlieg, en sy liedjies het op die trefferlyste geboer. Sy naam is Barney, en op die toppunt van sy roem was dié pers dinosourus se sterstatus enorm.
In 1993 het hy $84 miljoen (toe R252 miljoen) verdien, het die tydskrif Forbes destyds berig – die wêreld se derde grootste geldmaker daardie jaar, naas Steven Spielberg en Oprah Winfrey. Maar hoewel kleuters Barney se kenwysie “I Love You, You Love Me” uit volle bors kon sing, het volwassenes die lawwe, giggelende karakter met sy verspotte sêgoed soos “super-dee-duper!” dikwels verpes.
En oplaas het dié wrewel vir Barney in die wildernis laat beland, onthul ’n nuwe dokumentêre reeks met die ironiese titel I Love You, You Hate Me. In die reeks op die Amerikaanse stroomdiens Peacock vertel Bob West, een van die akteurs wat die rol van die pers dinosourus al vertolk het, dat Barneyhaters hom met die dood gedreig het.