Dit is ’n vreemde toneeltjie wat voor ons oë afspeel. ’n Boeremeisie lei twee diere aan halsbande rond, maar dis nie honde wat sy vir ’n stappie vat nie, dis twee springbokkies.
Die tweetjies bokspring en skop stof op, en Sunel van der Merwe (23) moet omtrent hardloop om met hulle by te hou.
Stokkies en Bambi is twee springboklammertjies wat baie amper jakkalskos geword het, maar dié boeremeisie van Warrenton in die Noord-Kaap het ingegryp en hul lewe gered.