Moes jy al hoor hoe die kinders jou ’n “boomer” noem? Jy was dalk ontstoke – ja, jou hare is al grys, maar jy bly dan steeds nogal byderwets?
Of is jy dalk ’n jong mens wat gefrustreerd raak as jy hoor hoe ouer mense kla dat generasie Z, jou tydgenote, oorsensitiewe foonverslaafdes is? Ja, jy is ook op TikTok, maar dit beteken nie jy weet niks van die regte wêreld nie.
Veralgemenings oor hoe die verskillende generasies bedraad is, kan soms ’n lekker gesprekspunt wees, maar ’n mens loop op dun ys as jy dit voor die voet op almal wil toepas. Want hoewel baie van ons tegnies tot een van die generasiegroepe behoort – boomers, generasie X, millenniërs, generasie Z, en nou selfs generasie alfa – is daar ook hope mense wat meen hulle pas eenvoudig glad nie in dié kampies nie.