Een oomblik nog het sy soos enige liefdevolle ma 'n fopspeen in haar babadogtertjie se mond gesit. 'n Paar tree van hulle was haar man besig om 'n plan te probeer maak om die motor, wat hulle stukkend langs die pad afgetrek het, te herstel.
Sekondes later het sy op die teerpad langs die voertuig gelê, bo-op haar kind om haar te beskerm teen die geweerskote wat rondom hulle afgevuur is. Langs haar het die lewelose liggaam van haar man, die pa van hul eenjarige, gelê.