Britte gee nog R5,6 miljoen vir soektog na Maddie McCann

akkreditasie
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Britse regering het aangekondig hulle gaan die polisie meer as R5,6 miljoen toestaan om die ondersoek na die verdwyning van Madeleine McCann voort te sit.

Volgens die BBC is hierdie geld, wat sal sorg dat die ondersoek tot Maart volgende jaar voortgesit word, bykomend tot die sowat R230 miljoen wat reeds aan die saak bestee is.

Maddie (toe drie jaar oud) het in 2007 uit haar ouers, Gerry en Kate McCann, se vakansiewoonstel verdwyn tydens 'n gesinsvakansie in Praia da Luz, ’n oord in die Algarve-steek van Portugal. Die Britse polisie het aansoek gedoen vir die geld om met die ondersoek voort te gaan.

Die Britse departement van binnelandse sake het Woensdag aangekondig dat hoewel ’n finale besluit eers teen Oktober gemaak sal word, dit 'n soortgelyke bedrag as in 2018-19 kan toestaan. Daar is toe R5,6 miljoen toegestaan, berig The Sun.

Meer as ’n dekade sedert haar verdwyning is daar geen vername leidrade oor wat met die kleuter gebeur het nie, en geen inhegtenisnemings is gemaak nie.

Maar volgens The Metro is 'n Duitse kindermoordenaar nou die jongste verdagte in die saak. Martin Ney (48) dien tans 'n lewenslange vonnis uit vir die moord op drie seuns terwyl hulle met vakansie saam met hul gesinne was.

Bronne: The Metro, BBC, The Sun


Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees