Net buite Bryanston, Johannesburg, hurk rye vaal geboue met groen dakke, omring deur betonmure en lemmetjiesdraadheinings. Gewapende wagte patrolleer die enorme kompleks dag en nag.
Hier word meer as 3 200 gevangenes en selfs van die land se gevaarlikste misdadigers agter slot en grendel gehou. Dis oorvol, tronkbendes voer ’n skrikbewind en verlede jaar is ’n vroulike bewaarder hier deur ’n gevangene vermoor.
Dit is Leeuwkop, een van die berugste maksimumsekuriteitstronke in die land – en dis beslis nie ’n plek waar jy wil wees nie. Tog het ’n nuwe gevangene twee maande gelede met sy hande en voete geboei hier ingeskuifel – en Huisgenoot het by ’n ingeligte bron in sy binnekring verneem dat hy op eie versoek hierheen oorgeplaas is.