Byna twee maande lank is die hele land al as’t ware in huisarres. Selfs die gelukkigstes onder ons, in gerieflike woonplekke met tuisvermaak en ons gesinne by ons, kla soms omdat ons nie na willekeur kan rondbeweeg nie. Sommige van ons raak rebels omdat daar vir ons voorgeskryf word wat ons mag doen, hoe laat ons dit mag doen en waar.
Ons beleef die emosionele toestand bekend as kajuitkoors en verlang na vriende of verre familielede.
“Ek kan gek word; wanneer gaan dit end kry?” hoor jy gereeld . . .