COVID-19: Kerke leeg, maar so versprei predikers die Woord aanlyn

akkreditasie
Lidmate kan steeds kerk bywoon. Aanlyn. Ds. Francois Mulder en past. At Boshoff van die Christian Revival Church in Bloemfontein (regs en onder) is maar net van die predikers wat so kontak maak met gemeentelede.
Foto's: Facebook
Lidmate kan steeds kerk bywoon. Aanlyn. Ds. Francois Mulder en past. At Boshoff van die Christian Revival Church in Bloemfontein (regs en onder) is maar net van die predikers wat so kontak maak met gemeentelede. Foto's: Facebook
“Ons kerkgebou se deur is toe, maar God se deur is nooit toe nie. Hy is altyd daar,” vertel ds. André van Zyl van die NG kerk op Rosendal in die Oos-Vrystaat.

Hy neem elke week ’n nuwe preek in die leë kerk op die preekstoel op en plaas dit op die kerk se Facebook-blad, Rosendal Baken van Hoop, en op YouTube, stuur dit na gemeentelede op WhatsApp en stel dit ook beskikbaar op Spotify.

Sedert die nasionale inperking van Vrydag af wil geestelike leiers aanlyn met hul werksaamhede voortgaan.

“Die gemeente en vorige lidmate is baie bly daaroor om op so ’n manier elke week met die gemeenskap van die gelowiges kontak te maak, al mag ons nie bymekaar wees nie. My vorige preek het 1 400 mense bereik,” vertel André.

“Vir seker is dit ’n uitdagende tyd, maar die ondersteuning en omgee van lidmate is wonderlik,” vertel ds. Leon Geel van die Midstream-familiekerk in Pretoria, wat ook preke aanlyn beskikbaar stel.

“Ek is wel bekommerd oor ons senior lidmate wat nie so vertroud is met sosiale media nie,” vertel Leon. “Hulle het voor die inperking baie bekommerd gevra: ‘Gaan ons jou ooit weer sien?’

“Kerk op Sondae is baie belangrik vir die ouer lidmate. Die jonges kan channel hop tussen predikers wêreldwyd,” voeg Leon by. “Op Woensdagoggende het sowat 50 van hulle ‘bymekaargekom’ vir Bybelstudie.” Leon wil as geestelike leier heeltyd beskikbaar wees vir sy gemeente.

By die Blancogemeente in George is daar drie dominees. Hulle preek ook in die kuberruim. “Eerstens is dit vir ons belangrik om ’n voorbeeld van gehoorsaamheid te wees en daarom die  lockdown te eerbiedig. Dis wat liefde vir God én jou medemens nou vra,” sê ds. Francois Mulder van dié gemeente.

“Ons is bevoorreg met tegnologie wat ons virtueel kan verbind met mekaar in ’n tyd van isolasie.

“Op die lange duur is dit al reeds vir sommige bejaardes en siekes die enigste konneksie met hul geloofsfamilie. Ons gemeente se WhatsApps (met oordenkings, videogrepies asook skakels na ons opgeneemde YouTube-eredienste) gaan daagliks uit na meer as 700 van ons gemeentelede.

“Die interaksie is verstommend. In kerktaal noem ’n mens dit die ‘gemeenskap van gelowiges’. Dis ’n nuwe manier van familiewees,” meen Francois.

Past. At Boshoff van die Christian Revival Church in Bloemfontein word deur meer as 55 000 mense gevolg, en mense wêreldwyd luister na sy preke; nie net regstreeks op Sondae nie, maar op enige ander dag.

Vir andersoortige kos vir die siel, kan internetgebruikers  na die Suid-Afrikaanse akteur Gérard Rudolf (Griekwastad, The Tokoloshe, Kanarie) luister op die Facebook-blad 21 FOR 21, waar hy elke dag van die inperking ’n ander gedig lees. Hy het reeds byna 600 lede binne net ’n paar uur vandag gekry.

“Ek kies die gedigte op grond van wat my byval. Ek wil nie fokus op ‘virus’-gedigte of gedigte oor dood of wat nog nie. Maar ook vermy ek nie sulke werk nie,” vertel hy aan Huisgenoot.

Die Suid-Afrikaanse akteur, Gérard Rudolf, lees el
Die Suid-Afrikaanse akteur, Gérard Rudolf, lees elke dag van die 21 dae inperking gedigte voor. Foto: Facebook

“Die idee is heel eenvoudig: lees een favourite gedig per dag vir 21 dae,” voeg hy by. “Ek kyk ook nou na mense wat sekere gedigte aanvra. En ek is mal daaroor.

“En die reaksie? Verstommend goed! En dit maak my bly. Mense het ’n behoefte lyk dit my.”

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees