’n Mens sien die hartseer op die tienermeisie se gesig terwyl sy na haar verminkte hande staar.
“Ek is iemand wat baie, baie van my hande gehou het. Ek het my naels altyd baie lank gedra. Ek het sulke mooi lang vingers gehad; almal het vir my gesê ek moet eintlik klavier speel,” vertel sy.
Met daardie vingers het Vanessa Grimbeek (16), van die skilderagtige Namibiese woestynkusdorpie Hentiesbaai, altyd graag mooi kunswerke geskep en naaldwerk gedoen. Maar die wrede ironie is dat dit juis ’n kunseksperiment was wat haar hande verwoes het.