Dié morsige kinderkamers sal ouers – en dié wat hou van elke ding op sy plek – die horries gee

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ouers van reg oor die wêreld is dit eens: As daar een ding is waarmee hulle sukkel, is dit om hul kinders sover te kry om hul kamers skoon te maak.
Om ’n deurmekaarspul te veroorsaak is maklik, maar
Om ’n deurmekaarspul te veroorsaak is maklik, maar skoonmaak? Allesbehalwe. Foto: Happy Beds

Hope klere, bondels Barbie-poppe met ingekoekte hare en vermiste arms, vuil sokkies, Lego-blokkies onder die bed . . . die kamer wat jy met soveel liefde vir jou kleinding ingerig het, het vinnig in ’n oorlogsone ontaard.

Maar ’n deurmekaar kamer het tot ’n gelukskoot gelei vir die agtjarige Emily van Glasgow in Skotland.

Emily van Glasgow het die eerste prys gewen vir wa
Emily van Glasgow het die eerste prys gewen vir die deurmekaarste slaapkamer. Foto: Happy Beds

Sy het onlangs die titel van Brittanje se deurmekaarste slaapkamer gewen, wat haar ’n ongelooflike nuwe kinderbed ter waarde van R8 400 besorg het.

“Emily beskou ongelukkig haar slaapkamer meer as ’n kleedkamer en bring die meeste van haar tyd in die leefvertrek deur. Is ons nie gelukkig nie,” het haar pa, Steve, aan Glasgow Live gesê.

“Elke keer as ons haar laat opruim, duur dit net ’n week voor dit weer lyk asof ’n bom daarbinne afgegaan het. Ek hoop ’n nuwe bed inspireer positiewe verandering en gedrag.”

Emily het eerste plek gehaal uit meer as 100 fotoinskrywings reg oor Brittanje wat na die maatskappy Happy Beds gestuur is vir hul kompetisie vir die deurmekaarste slaapkamer.

Die sesjarige Emma se kamer het tweede plek gewen.
Die sesjarige Emma se kamer het tweede plek gewen. Foto: Happy Beds

“Ouers het skokkende foto’s gedeel van hul kinders se deurmekaar kamers, met speelgoed en beddens in ’n warboel,” het Happy Beds gedeel.

“Nadat ons deur 100 deurmekaar slaapkamers gegaan het, het Happy Beds vir Emily as die morsigste kind van 2021 gekroon.”

Skoonmaak is belangrik. Daar is in ’n studie deur die Universiteit van Minnesota bevind huishoudelike takies vir kinders “help om ’n blywende gevoel van bemeestering, verantwoordelikheid en selfstandigheid te bou”.

Maar hoe bevorder jy netheid sonder om te neul?

“Kalm, verduidelikende, gawe kommunikasie is die geheim, en om jou kind se pogings te loof, soos om vir hulle te sê hulle kamer is baie skoner as voorheen, kan hulle aanmoedig om hierdie gedrag te herhaal en gereelder skoon te maak,” sê dr. Sanam Hafeez, ’n sielkundige, in ’n onderhoud met die tydskrif Romper.

Lillie (10) van Londen kan nie haar suster deur di
Lillie (10) van Londen kan nie haar suster deur die gemors sien nie. Foto: Happy Beds

Dit bly ’n ope vraag of die titel Emily gaan inspireer om haar kamer meer dikwels op te ruim. En sy het omtrent strawwe kompetisie gehad.

“Ons almal weet om kinders sover te kry om hul kamers skoon te maak, is ’n moeilike taak en ons voel vir hierdie ouers,” het Lucy Bolland, die bemarkingsbestuurder by Happy Beds, aan Ladbible gesê. “Dis belangrik om ’n netjiese kamer te hê om jou rustig te laat voel en goed te laat slaap.”

“Ons hoop Emily is versot op haar nuwe bed en dat dit ’n aansporing sal wees vir haar om haar kamer in die toekoms netjieser te hou,” het Lucy gesê.

TOPWENKE VIR SKOONMAAKTYD

Kenners glo dis belangrik om kinders van ’n jong ouderdom te leer oor die belangrikheid van skoonmaak. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kenners glo dis belangrik om kinders van ’n jong ouderdom te leer oor die belangrikheid van skoonmaak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kleuters kan nie juis skoonmaak nie, maar hulle kan help om klein items op te tel en die stofsuier se knoppie druk. Betrek die kleingoed van so jonk as drie jaar by skoonmaaktyd.

Praat met jou kinders oor kieme en hoekom dit belangrik is om skoon te maak.

Maak dit ’n gesinsaktiwiteit – stel ’n tydhouer en laat almal betrokke raak in ’n resies om te vee of toonbanke skoon te maak.

Sluit opruimtyd in by speelafsprake. As die kinders maatjies verwag, sit tyd eenkant om enige gemors op te ruim.

Gee aansporing soos meer sakgeld of bederfies sodra take betyds afgehandel is.

Bronne: ladbible.com, glasgowlive.com, romper.com, nbcnews.com, heart.co.uk

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees