Die ontploffing het Beiroet skielik op ’n wolklose someraand geruk; so hard dat dit 250 km ver gehoor kon word, so kragtig dat dit met dié van ’n kernbom vergelyk word en so verwoestend dat minstens 220 mense gesterf het en meer as 7 000 beseer is.
In die Libanese hoofstad het dit ’n gapende gat in die hawegebied gelaat – daar waar die vonk van ’n sweisvlam ’n reusevoorraad ammoniumnitraat laat ontplof en die omliggende geboue in puin gelê het.
En daarmee saam het dit die hart uitgeruk van ’n kosmopolitiese stad wat met sy ryk kultuur, bedrywige straatkafees en ’n naglewe vroeër as die Parys van die Midde-Ooste bekend was.