Gerdurende hul verhouding van 17 jaar het die houe meestal agter geslote deure op haar neergereën – in die slaapkamer, op kantoor, in die kar . . .
Dan het sy maar elke keer die tekens van haar mishandeling met ’n groot sonbril en grimering vir die wêreld weggesteek. Later het sy vir haar twee seuntjies ook verbloem wat Pappa aan haar doen; nie eens haar ouers het geweet hoe die man wat sy liefgehad het haar pap slaan en verneder nie.
“Ek het dit altyd vir almal weggesteek. Toegesmeer. Gemaak asof dit nie gebeur het nie. Hoekom? Om hóm te beskerm! Omdat hy my elke keer belowe het dit sal nooit weer gebeur nie,” vertel Nicoleen Swart (35) vandag oor die man wat haar verinneweer het; die man wat onlangs landwyd die gesig geword het van huishoudelike geweld nadat die bewyse van sy vuiste se gruwerk aanlyn in videomateriaal gedeel is.