Dogter sonder uterus gebore, nou gee surrogaat-ouma geboorte aan kleinkind

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Australië se oudste surrogaat het op 54 aan haar eie kleinseun geboorte gegee vir haar dogter wat sonder ’n baarmoeder gebore is.

Mayer-Rokitansky-Küster-Hauser-sindroom (MRKH) is op 17 by Meagan White gediagnoseer. Die afwyking beteken sy is sonder ’n baarmoeder gebore en sou nooit ’n kind kon dra nie.

Later het ’n Kanadese surrogaat vir Meagan en haar man, Clayde (28), ’n babadogter gedra. Maar die swangerskap het op 21 weke geëindig.

Meagan se ma, Maree Arnold (54), het begin navorsing doen en uitgevind sy kan ’n surrogaat vir haar dogter wees. En op 13 Januarie vanjaar het sy aan haar eie kleinseun, Winston, geboorte gegee.

Meagan, van Lilydale, Tasmanië, sê: “Om Winston in ons arms te hê is ’n droom wat waar geword het.

“Toe ons hom die eerste keer sien, was dit liefde met die eerste oogopslag. Hy het ons harte gevul soos wat ons nooit geweet het moontlik is nie. 

“Die keisersnee is maande vooruit beplan en die geboorte het heeltemal volgens plan verloop. Ons het seweuur die oggend by die hospitaal aangekom en hom neguur die oggend in ons arms gehad. Dit was perfek. 

“Ons albei was met die geboorte by. Nie senuagtig nie, net opgewonde. Ons dokter was fantasties, insiggewend en kalmerend.

“Winston floreer. Hy is ontspanne, wakker en suiwer volmaaktheid.” 

Meagan sê sy het geweet iets is nie heeltemal pluis nie toe al die meisies by die skool buiten sy begin maandstonde kry.

“Ek het gewag om met my menstruele siklus te begin en dit het nooit gebeur nie,” sê sy.  

“Ek en my ma het ’n dokter besoek en uitgevind ek het MRKH, wat beteken ek is sonder ’n baarmoeder gebore en sou daarom nooit maandstonde hê nie. 

“Dit beteken ook ek sal nooit ’n kind kan dra nie. Maar ek het werkende eierstokke; dus kan ek met die hulp van ’n surrogaat ’n biologiese kind hê.”

Ná hul stryd met surrogaatswangerskap het haar ma aangebied om haar te help.

Maree sê sy was hartseer om haar dogter te sien swaarkry, maar het haar nooit ingedink sy sou kon aanbied om ’n surrogaat te wees nie. Sy het gemeen sy sou as “te oud” beskou word om ’n kind te kan dra. 

Maar ná uitgebreide navorsing, regsadvies, mediese toetse en sielkundige beoordelings het dokters gemeen dit sou moontlik wees.

Aangesien Maree reeds menopouse beleef het, het sy medisyne gekry om die proses om te keer en die voering van haar baarmoeder te verdik om vir swangerskap voor te berei.

Die ma van vyf wat haar eie plaas bestuur, sê: “Ek het altyd aangeneem ek sou te oud wees om so iets te doen, maar dit wys jou net jy moet altyd vrae vra.

“Dit is so ’n spesiale ervaring vir my en ek is in die wolke om my dogter te kan help.

“Ek dink daar is deesdae verskillende maniere waarop mense swanger raak, en hierdie is net nog ’n opsie.”

Die ma en dogter sê ná drie mislukte embrio-oorplasings het hulle begin moedeloos voel en gedink die proses sou dalk nooit werk nie. 

Maar gelukkig was die vierde oorplasing ’n sukses en klein Winston is in Januarie vanjaar in die wêreld verwelkom. 

“Ek weet ek was vanselfsprekend ouer met hierdie swangerskap, en ek het ’n bietjie moëer geword as toe ek 22 jaar gelede laas swanger was,” sê Maree. 

“Maar ek was steeds aan die gang en aan die grasperke sny en dinge in die huis doen. Ek het goed gevoel.

“Ek dink noudat alles verby is, is ek verlig dit het so goed afgeloop en net verwonderd oor hierdie mensie wat ons gemaak het.

“Die eerste keer toe ek hom vasgehou het, was baie spesiaal en ek sal dit nooit vergeet nie. Klein Winston is alles waarvoor ons kon vra en meer. Hy het ons familie gemaak. Dit is net wonderlik om Meagan en Clyde so gelukkig te sien. Ek hoop ons storie sal iemand anders aanmoedig om dieselfde reis as ons aan te pak.

“Dit is ’n baie vervullende ding om te doen, en as ek my tyd teruggehad het, sou ek dit beslis weer gedoen het.” 

Maree is moontlik Australië se oudste surrogaat. Antonietta Di Maggio, van Sydney, het in 2015 die nuus gehaal oor sy op 53 aan haar dogter, Claudia Luca, se seun geboorte gegee het. 

Meagan en Maree sê die ervaring het hulle as ma en dogter nader as ooit aan mekaar gebring. 

“Ek en my ma is baie geheg aan mekaar,” sê Meagan. “Ons praat elke dag. Ek kan nie eens in woorde uitdruk hoe dankbaar ek teenoor haar is nie." 

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!


Jongste uitgawe

19 Mei 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees