Dié naweek het die kwik by 42 °C op Worcester in die Wes-Kaap gaan draai nadat dit Saterdag 41 en Sondag 42 °C was.
Dit is nie ongewoon vir dié dorp wat reeds in die verlede sulke temperature aangeteken het nie.
Dit voel immers asof die dorp soms die hek na die poorte van die hel is. Maar dit was ’n Saterdag soos min toe die weerlig skielik begin slaan, die donderweer begin rammel, ’n reënbui uitsak en bure begin skree.
’n Elektriese storm op dié dorp wat eintlik net hitte ken . . .
“Kom! Kom kruip onder die tafel weg,” skree ’n buurvrou vir haar kinders terwyl die weerlig aanhou slaan.
Iewers buite het iemand se hond paniekerig geblaf asof hy ook onder ’n tafel wou wegkruip.
Die kat, wat gewoonlik aristokraties is en nét bo-op beddens of banke lê, het haar lyf skaars gemaak en iewers onder ’n bed of bank gaan wegkruip. Die ironie vir dié Nefertiti wat eintlik nét Kitta heet.
En daar begin die weerlig ernstig op die dorp slaan, met wit blitse teen ’n vreemde oranje lig.
“Dis die eindtyd daar op Worcester,” SMS ’n kollega wat knus maar warm in die Kaap sit.
Dit lyk amper soos iets uit ’n rillerfliek, laat ’n ander kollega veilig uit die Kaap hoor.
Voor die blitse het ’n reënbui oor die hele dorp uitgesak met reën wat kwaai teen die vensters dreun.
Nie eers dít het die aarde afgekoel nie. Die poorte na die hel staan sterk én boonop warm.
Skielik slaan die weerlig hard op die dorp en die donderweer klink asof ’n honger draak se maag grom.
Iewers in die huis is ’n vonkie by die elektriese toebehore en die bure gil langsaan.
Later kom dit uit een van die buurmense was so bang dat hy summier onder sy bed gaan wegkruip het.
En met dít die besef: Wat doen 'n mens eintlik in so ’n storm (iets wat net die noorde van Suid-Afrika regtig goed ken)? Hoe bly jy veilig?
'n Paar wenke:
Volgens die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en-voorkoming (CDC) is daar wenke vir wanneer jy buite of in die huis is.
As jy buite is:
Mense moet weerlig probeer vermy en kan dit doen deur die weervoorspelling dop te hou.
“Indien weerlig voorspel word, moet jy dit oorweeg om jou aktiwiteite of jou reis uit te stel. Of maak seker daar is beskutting sodat jy binne kan wees wanneer die weerlig tref.”
Veilige hawes sluit in huise, kantore of winkelsentrums.
“Onthou: Wanneer die donderweer brul, gaan binne.”
Die CDC sê indien jy buite is, moet jy so vinnig moontlik na ’n plek gaan waar jy beskutting sal kry.
Indien daar nie ’n beskutting naby jou is nie, moet jy buite hurk sodat jy so naby moontlik aan die grond is. Maar moenie gaan lê nie.
“Probeer wegkom van bulte of berge. Moet nooit op die grond gaan lê nie. Hurk asof jy ’n balletjie is en druk jou kop tussen jou bene en jou hande oor jou ore. Moet nooit onder ’n boom gaan wegkruip nie.”
Die CDC waarsku mense moet ook ver van water of elektriese toebehore wegbly. Moet ook nie in ’n voertuig gaan sit wat oop is nie.
As jy binne is:
- Bly weg van water. Moenie gaan bad, stort of skottelgoed was nie. Weerlig kan in die pype en water beland.
- Bly weg van elektroniese toebehore. Moenie jou rekenaar, skootrekenaar, televisie, stoof of wasmasjien gebruik nie. Moet ook nie ’n foon met ’n koord gebruik nie.
- Bly weg van jou vensters, stoep of deure. Moet ook nie op beton gaan sit of lê nie.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!