Shivaika Sewlal (20) is oorspronklik van Durban, maar woon nou in Kaapstad. Sy is ’n sosialemedia-kampvegter en beïnvloeder. Sy wil bewustheid bevorder oor die stryd van mense wat ekseem en ander allergieë elke dag moet trotseer.
Shivaika, ’n student in rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, het meer as 40 allergieë, onder meer vir neute, koring, heuning, koeimelk, olywe, koejawels, die meeste sjokolades en lekkers en sitroensuur. Sy kan ook nie met katte, honde, kakkerlakke, sekere grasse en bome, bye, chloor of stofmyte in aanraking kom nie.
Sedert sy haar TikTok-rekening verlede jaar begin het, het Shiv, soos sy bekendstaan, meer as 264 000 volgelinge opgebou en kry sy nou meer as 15 miljoen kykslae per maand.