‘Ek wil net my eie lewe lei’ sê Russiese TikTok-ster wat gereeld vir Scarlett Johansson aangesien word

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dit kan jou lewe moeilik maak wanneer jy ongelukkig is omdat jy gereeld aangesien word vir die superstar Scarlett Johansson.
Scarlett Johansson Kate Shumskaya
Scarlett Johansson Kate Shumskaya. Foto's: Gallo Images/Getty Images en Instagram

Die Russiese model en TikTok-ster Yekaterina “Kate” Shumskaya (24) sê alhoewel sy aanvanklik die aandag geniet het omdat sy verstommend baie na die Black Widow-ster lyk, wil sy nou net haar eie lewe lei en nie Scarlett s'n nie. 

“Daar is mense op internet wat my met Scarlett verwar, maar ek gee nie voor om sy te wees nie,” sê die gewese verkoopsbestuurder wat 'n skaflike inkomste verdien uit haar genetiese voordeel, haar 10 miljoen TikTok-volgelinge en 1,1 miljoen Instagram-bewonderaars.

Kate het vroeër vanjaar na Moskou getrek om 'n model te word nadat sy haar werk as verkoopsbestuurder vir ’n konstruksiemaatskappy in haar tuisdorp prysgegee het. 

“Ek het genoeg van my werk gehad. Dit het nie die inkomste genereer wat ek gevoel het ek verdien nie.

“Ek het een oggend wakker geword en gedink: My jeug is besig om verby te gaan en binnekort gaan niemand my meer raaksien nie.”

Maar haar pogings om 'n naam vir haarself te maak – as haarself – het tot dusver nog geen vrugte afgewerp nie. 

“Ek word gereeld op sosiale netwerke gekomplimenteer vir my uitstekende toneelspel in Black Widow.”

@mimisskate

@anastasyiaqueen @deadpool_tony

? Level Up - Ciara

Haar bewonderaars vra haar ook gereeld of sy al ooit met Scarlett (37) gesels of selfs ontmoet het. Kate sê sy weet nie eintlik hoe om daarop te reageer nie maar dat sy baie graag die aktrise wil ontmoet. 

“Ek sal gek daaroor wees om eendag 'n reeks video's van myself te maak wat na Amerika reis om Scarlett te ontmoet.” 

Volgens Kate is sy op skool reeds gereeld met Scarlett vergelyk. 

“Van my skoolmaats het na my toe gekom toe ek rondom 12 jaar oud was en het vir my 'n foto gewys. Ek was: ‘Is dit ek?’ 

“Hulle het gesê, ‘Nee, dit is Scarlett Johansson toe sy 'n kind was’. Dit het my nogal laat terugdeins. So, ek het lankal geweet ek lyk soos sy, maar het nie juis veel daarvan gedink nie.”

Die slegte kant daarvan om soos 'n gewilde glanspersoon te lyk, is volgens Kate die kere wanneer Scarlett in die sop is by haar bewonderaars. Dan is sy ook sommer in die moeilikheid by haar eie bewonderaars.

Scarlett het in 2017 in die spervuur beland vir haar rol in die aangepaste weergawe van Ghost in the Shell. Sy en die vervaardigers van die fliek het deurgeloop omdat hulle haar as 'n Asiese karakter ingespan het. 

Toe Kate foto’s en 'n video van haarself gedeel het waarin sy Scarlett se karakter nageboots het, het sy doodsdreigemente ontvang. 

“Sommige mense het gesê ‘Kom ons maak haar dood” toe ek probeer het om Scarlett se karakter na te boots.”

“Alhoewel mense dwarsoor die wêreld soos haar karakter aangetrek het, het hulle besluit om my aan te val omdat ek soos Scarlett lyk. Dit was uiters onaangenaam.” 

Kate sê ten spyte van haar skrikwekkende ervarings, kan sy haarself nogal indink om 'n professionele cosplayer (iemand wat 'n kostuum van gewilde karakters aantrek) in Amerika, Europa of Suid-Amerika te word. 

“Daar is nie juis 'n loopbaan vir 'n cosplayer in Rusland nie. Daarom wil ek graag die ander lande besoek, alhoewel ek nie permanent daar wil bly nie.” 

Bronne: Mirror, Dailymail, NY PostSix Page

Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees