‘Ek's buite my huis ontvoer terwyl ek vir ’n taxi gewag het’

akkreditasie
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Toe Mahlogonolo Ngwepe op ’n stil Sondagoggend by ’n winkelsentrum naby haar huis wou gaan kruideniersware koop, het sy haar nie voorgestel dit sou in die slegste dag van haar lewe ontaard nie. Hier is haar storie.

Dié 27-jarige van Lephalale in Limpopo is op daardie noodlottige dag ontvoer, en twee jaar later spook die beproewing steeds by haar. 

Hier is haar storie

‘Ek het een Sondagoggend planne gemaak om na die Jabulani-winkelsentrum in Soweto te gaan en aangesien ons huis op die hoofpad is, staan ons gewoonlik net buite die hek terwyl ons vir ’n taxi wag. Terwyl ek gewag het, het ’n silwergrys VW Polo skielik voor my stilgehou.

Drie mans en ’n vrou het uit die voertuig geklim. Hulle het vuurwapens gehad, dit op my gerig en my gedwing om in die motor te klim. “Moet dit nie waag om te skree nie, want ons sal jou kop afblaas,” het een van die mans gesê. Vreesbevange het ek gedoen soos hulle beveel het. 

Al was ek reg voor my huis, kon ek niks doen nie, want ek moes aanwysings volg. Toe klim ek in die motor en hulle ry weg. Toe hulle vra waarheen ek gaan, het ek vir hulle gesê ek is op pad na die winkelsentrum om kruideniersware te koop. Hulle het toe met my na die Jabulani-winkelsentrum gery en my geld uit my bankrekening laat trek.

Ek kon niks doen nie, want hulle het belowe hulle sou my doodmaak as ek om hulp skree. Ek het al die geld getrek wat ek gehad het en dit vir hulle gegee. 

Hulle het toe met my van Soweto na Randburg gery. Op pad na Randburg het hulle my pruik afgeruk en dit by die venster uitgegooi voor hulle van roete verander het. Hulle het gesê hulle doen dit om wie ook al na my sou kom soek te verwar. Hulle het ook spuitnaalde gehad en gedreig om dit te gebruik om my te bedwelm. 

Teen ongeveer die middaguur is ek uit die motor gehaal en na ’n baie donker vertrek in ’n onbekende plek verskuif. Daar het nie ’n enkele straal lig by die vertrek ingekom nie. Daar was niemand anders daar nie buiten hulle – en al wat ek kon doen was skree.

“Niemand gaan jou hoor nie,” het die vrou vir my gesê. Ek kon dit nie glo nie. Ek het gedink dit kon nie waar wees nie. Ek het gehoop dit was alles ’n aaklige droom waaruit ek sou wakker word. 

Maar dit was regtig aan die gebeur. 

Die vrou het gevra ek moes my klere uittrek sodat die mans na my lyf kon kyk en sien of hul kliënte sou tevrede wees. Ek het gehuil. Ek kon nie glo ’n vrou kon so wreed wees nie.

Een van die ouens wou my verkrag, maar dit het teen hul kliënte se reëls ingedruis, want hulle moes my verkoop as wat hulle as “vars vleis” beskryf het.

Hulle het gepraat oor my na die een of ander land vervoer. Ek kan nie onthou waarheen nie, maar ek was veronderstel om die volgende aand “verskeep” te word. Later het hulle die naalde gebruik om my te bedwelm en my in daardie vertrek gelos vir wat soos ure gevoel het. Ek het geen krag gehad nie. 

Later het hulle teruggekom en my foon gevat en vir my ma se nommer gevra. Die mense het hul werk geken. Hulle het vir haar ’n teksboodskap van my foon af gestuur.

“Ons het jou dogter,” het die boodskap gelui. Gelukkig het my ma vinnig opgetree en dadelik die saak by die polisiekantoor aangemeld. 

Nadat hulle vir haar ’n teksboodskap gestuur het, het hulle my na die motor teruggevat. Ek kon sien een van die ouens kry my jammer.

Hy het na my bly staar terwyl ek om genade gebid het terwyl trane oor my gesig stroom. Die vrou het glad geen genade gehad nie, al het die ou haar gesmeek om my in die middel van nêrens af te laai, want hy het ’n “slegte gevoel” gehad oor die “rigting waarin die operasie gaan”.

Sy het aangedring hulle sit die taak voort, maar hy het volgehou hulle moes ’n ander vrou kry, al was dit ’n prosituut van Johannesburg. 

Hulle het weggery en my voor die Universiteit van die Witwatersrand eindelik uit die motor gegooi. Gelukkig het dit nie vinnig beweeg nie en is ek nie ernstig beseer nie. ’n Verbyganger het my met my gesin help herening, maar dit was ingewikkeld, want ek kon skaars iets onthou oor ek bedwelmd was. Maar sy geduld het vrugte afgewerp. 

Toe ek by die huis kom, het baie van my geliefdes daar op my veilige terugkeer gewag. Ek kon nie praat nie, want ek het gehuil en was ongelooflik emosioneel. Ná die voorval was my lewe nie dieselfde nie. Ek het vir ’n ruk onveilig in my eie huis gevoel, maar ek het mettertyd geleer om te genees en stadig die vrees oorwin wat deur die traumatiese beproewing veroorsaak is.’

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees