Dis ’n regte herfsdag hier in Kaapstad: die wolke is donkerblou saamgepak, maar die sonnetjie bring ’n goue gloed wanneer dit kop uitsteek en meer as net ’n silwer randjie word.
Die oomblikke voor die aangrypende gebeure wat almal vandag hier kom aanskou, is tipies aan enige troudag. Daar is die bruid met haar blink oë en hart vol afwagting; die bruid se ma wat help om die wit rok en sluier net reg te trek; Pa wat sy dogter kom haal om haar bruidegom saam tegemoet te stap.
Maar dis nié net nog ’n lieflike viering van die liefde tussen twee mense nie. Dis ook ’n viering van die liefde wat alles oorkom; die liefde wat versoen.