Fratsongeluk tydens troufoto eis dokter se lewe

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Brasiliaanse dokter en sy aanstaande was op pad na hul troue toe hy die fotograaf vra om ’n prettige hengelfoto van hulle te neem vir hul troualbum. Min het hy toe geweet die dood wag in die water.
Die paartjie het in 2019 verloof geraak. Denis en
Die paartjie het in 2019 verloof geraak. Denis en Kamilla. Foto: Newsflash/Magazine Features/@kamillagodoi

Die coronaviruspandemie het Brasilië besonders hard getref, en ’n jong dokter, Denis Gurgel (31), was in die voorste loopgrawe van die oorlog teen die virus. 

Tog kon hy te midde van die angs aan sy troue met sy droomvrou beplan. En op 29 Julie vanjaar kon hy en sy verloofde, Kamilla Godoi, beswaarlik gelukkiger wees. Hulle sou die volgende dag in Gurupi voor die kansel staan en daarna hul lewe saam begin.

Nes ander bruidspaartjies het hy en Kamilla, ook ’n dokter, ’n fotograaf gehuur om hul groot dag te verewig. En die fotosessies vir hul troualbum het die dag voor hul huweliksbevestiging reeds begin. Min het hulle geweet dit was die laaste foto's wat ooit van Denis geneem sou word en dat Kamilla se vreugde in verdriet sou verander.

Denis was versot op hengel en dis waarom hy visstokke ingepak het vir hul reis na hul trouplek. Dit was ook sy idee dat die fotograaf hom en sy aanstaande afneem waar hulle sorgeloos op ’n kaai by ’n dam kaalvoet sit en visvang.

Die troufotograaf, Abner Teixeira, vertel Denis het daarna gevra dat hy afgeneem word waar hy sy vislyn dieper die dam ingooi, “maar hy het nie die kragkabel in die dam raakgesien nie”.

Denis se lyn het aan die kabel verstrengel geraak, en hy en Abner het toe met ’n kano na die kabel geroei om dit los te maak. Denis het glo eers probeer om die vislyn met sy tande af te byt, maar hy kon dit nie regkry nie. Abner wou hand bysit, maar Denis het hom gekeer omdat dit gevaarlik kon wees. 

“Hy was kaalvoet en besig om die lyn met sy hand los te maak. Die lyn het toe losgekom, maar Denis het sy balans verloor. Om te keer dat hy val, het hy met sy regterhand aan die kabel geraak,” vertel Abner. 

“Denis het in die kano gestaan terwyl hy geskok is. As ek nie skoene aangehad het nie, was ek ook dood. Ek het die kabel met die roeispaan bygedam, maar ek kon dit nie breek nie. Ek het Denis probeer wegstoot, maar toe word ek self so geskok dat ek in die water beland.”

Die plastiekbedekking om die kabel was blykbaar plek-plek verweer en die isolering dus nie voldoende om beskerming teen elektriese skokke te bied nie. 

Die brandweer en ’n ambulans is ontbied, maar hulle het te laat opgedaag om Denis se lewe te red. Die brandweermanne het bevestig hy is doodgeskok. Die hele tragedie het ten aanskoue van die histeriese Kamilla plaasgevind. 

Denis Ricardo Faria Gurgel (31). Foto: Newsflash/M
Denis Ricardo Faria Gurgel (31). Foto: Newsflash/Magazine Features

Denis het in ’n covid-sentrum vir die munisipale gesondheidsdienste van die stad Gurupi gewerk. Hy het ook skofdiens by die Lagoa da Confusao-stadsaal in Tocantins verrig.

Sy Gurupi-werkgewer het in ’n huldeblyk gesê hy was “behulpsaam en altyd hoflik. Denis was baie geliefd onder sy kollegas en ook sy pasiënte. Sy ontydige dood laat almal in skok en die groot verlies word betreur.”

Denis en Kamila. Foto: Newsflash/Magazine Features
Denis en Kamilla. Foto: Newsflash/Magazine Features/@kamillagodoi
Denis en Kamilla. Denis en Kamila. Foto: Newsflash
Foto: Newsflash/Magazine Features/@kamillagodoi

Die bestuur van die Lagoa da Confusao-stadsaal het gesê hulle deel in die hartseer van sy familie en vriende en hoop hulle sal berusting en vertroosting kan vind. 

Dis nog onseker of die polisie enige klagte van nalatigheid gaan ondersoek betreffende die gevaarlike kabel.

Intussen is die foto van hul laaste oomblikke saam die enigste in Kamilla, wat om persoonlike en professionele redes nie met die media wou praat nie, se “troualbum”.

Ekstra bron: Facebook

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees