’n Groot partytjie vra gewoonlik ’n groot koek – en toe ’n bakker onlangs sien hoe die Suid-Afrikaanse musikant DJ Black Coffee ’n Grammy ontvang, het sy geweet net hoe dit gevier moet word.
Vergeet maar van die koek in die vorm van ’n pophuis of ’n resieskar wat jy so trots vir jou kinders se verjaardae gebak het – Kurhula Makhuvele se lewensgroottekoek van die bekroonde DJ lyk soos iets uit die Madame Tussauds-museum; dis 2 m lank en weeg ’n volle 150 kg.
Altesaam 15 kg fondant, 20 kg sjokolade, 360 eiers, 12 L olie, 25 kg meel, 20 kg suiker, 5 kg botter, 8 kg versiersuiker en 4,8 kg Rice Krispies Treats het in die koek ingegaan. Nadat Kurhula en haar helpers dit in haar motorhuis gebak het, moes vyf mans spook om dit na die vervoerwa te dra en het haar motorhuis se deur – wat laer as die koek is – amper die DJ se kop afgestamp.