Vir die internasionale dierewelsynsorganisasie Baby Rhino Rescue, 'n bondgenoot van Saving the Survivors, 'n plaaslike groep onder leiding van dr. Johan Marais wat hulle toespits op die slagoffers van stropery, veral renosters, is dié witrenoster “'n baken van hoop” en simbolies van wat met spanwerk vermag kan word.
Seha, kort vir die Zoeloewoord “Sehawukele” wat “betoon ons genade” beteken, is vandag ná 30 operasies en danksy die steun en samewerking van verskeie organisasies, talle vrywilligers en honderde skenkers, in die ongerepte Marataba-wildreservaat in die Waterbergomgewing op die rand van die Kalahari hervestig.
In 2016, toe Seha 'n jong bul op 'n wildplaas in Noordwes was, het stropers hom vir dood agtergelaat ná 'n slagting waarin vyf ander renosters uitgewis is.