Dit was drieuur die oggend, en buite nog stikdonker toe sy van die honde se geblaf wakkerskrik. In haar benewelde toestand het Tanya Joubert haarself uit die bed gedwing en suutjies in die gang van die ruim huis afgeloop.
Hier kon sy nie sin maak van die nat sleepmerke oor die vloer nie – merke wat van haar kamerdeur tot daar waar haar dogters, Zelda (12) en Annie (8), slaap, gestrek het.
Tog het sy nie veel daarvan gemaak nie; en dit bloot afgemaak as een van die dogters wat dalk ’n nat handdoek oor die vloer getrek het.