Om ’n brandweerman (of -vrou!) te wees is nie vir sissies nie. Want om lewens en eiendom te red, moet jy deure oop skop, slagoffers oor jou skouer dra, met brandweerslange stoei – en dit alles te midde van die versengende hitte en rook van ’n vuur.
Daarom is dit net die taaistes onder die taaies wat gekies word om hul land te verteenwoordig by die jaarlikse Wêreldspele vir Brandbestryders. Soos Emile Conrad (37) van George, wat al vyf keer as Suid-Afrika se taaiste brandweerman aangewys is. En onlangs het hy en sy twee spanmaats weer hul staal gewys by die Spele in Lissabon, Portugal.
“Die World Firefighters Games is bekend as die wêreld se moeilikste kompetisie vir brandweermanne," beaam Emile, “en die World’s Toughest Firefighter-kompetisie is die hoofgeleentheid.”