
Die 56-jarige vrou, wie se naam weerhou word, het die geleentheid by ’n huis in Knoxville, Amerika, bygewoon toe ’n ontploffing tydens die geslagsbekendmaking op Saterdag 26 Oktober plaasgevind het, berig NBC News.
Die vrou is deur brokstukke getref wat deur die lug getrek het tydens die ontploffing wat glo deel van die geslagsonthulling was. Sy is op die toneel dood verklaar.
“Die ondersoek het bepaal ’n geslagsonthullingsaankondiging het tot die ontploffing gelei waarin die vrou dood is,” lui die sheriff se verklaring.
Die Marion-distrik se sheriff-kantoor ondersoek die voorval.
Dit is nie die eerste keer dat ’n voorval by ’n geslagsonthullingspartytjie plaasvind nie.
In 2017 het ’n partytjie ’n veldbrand veroorsaak wat ’n groot stuk grond in Arizona laat afbrand en tot sowat R116 miljoen se skade gelei het, berig CNN.
Bronne: NBC News, ABC News, CNN