Amerikaanse aanklaers het intussen gesê sy behoort minstens 30 jaar tronkstraf te kry.
Die berugte Britse sosiale vlinder, eens die meisie en sekshandeltrawant van Epstein – wat sy eie lewe in aanhouding geneem het – word fyn dopgehou in haar sel in Brooklyn, Amerika, terwyl sy wag om te hoor wat haar lot gaan wees.
Ghislaine Maxwell, the British socialite convicted of sex-trafficking with former boyfriend Jeffrey Epstein, has been put on suicide watch by federal jail officials https://t.co/zbR1v6OPZK
— Bloomberg (@business) June 26, 2022
Bewaarders by die Metropolitan Detention Centre het Vrydag verklaar dat sy onder selfmoord-monitering is en haar toe skielik na alleenopsluiting verskuif. Maar daar’s ook sprake dat sy en haar regspan kan probeer om Dinsdag se vonnisoplegging uitgestel te kry.
Haar prokureur, Bobbi Sternheim, het gesê Maxwell (60) het 'n sogenaamde “suicide smock”-jurk gekry om aan te trek en dat haar klere, seep, tandepasta en regsdokumente verwyder is.
Volgens Bobbi het haar kliënt egter nie selfmoordneigings nie en sou hulle 'n uitstelaansoek oorweeg as sy onder selfmoordbewaking moes bly, “verbied word om regsmateriaal voor vonnisoplegging na te gaan, slaap ontneem word en nie genoeg tyd kry om met haar regspan te beraadslaag nie”.
Epstein, 'n Amerikaanse finansier met wie prins Andrew en verskeie ander bekendes bevriend was, het homself in 2019 in sy Manhattan-tronksel opgehang.
Maxwell is einde verlede jaar aan sekshandel en die werwing en voorbereiding van vier meisies vir seksuele misbruik skuldig bevind.
Die vervolgingspan het verklaar sy behoort onder meer weens haar “algehele gebrek aan berou” minstens 30 jaar tronkstraf uit te dien (die moontlike maksimum in haar geval is 55 jaar).
Sy en haar regspan hoop egter op minder as 20 jaar.
Virginia Guiffre, wat beweer dat prins Andrew haar toe sy 17 was by wonings van Epstein en Maxwell seksueel misbruik het, het intussen vir laasgenoemde 'n verdoemende boodskap gestuur: “Jy verdien om die res van jou lewe in 'n tronksel deur te bring. Jy verdien om vir altyd in 'n hok vasgevang te wees, nes jy jou slagoffers verstrik het.”
Virginia het vroeër vanjaar 'n skikking buite die hof met die prins bereik wat luidens berigte miljoene ponde beloop het.
Dit was ten spyte van sy herhaalde ontkenning van haar bewerings, en sy opmerking in 2019 dat hy nie eens kan onthou dat hy haar ooit ontmoet het nie – desondanks die nou berugte foto van hom met sy arm om 'n 17-jarige Virginia se middel en met Maxwell langs hulle.
Virginia is een van sewe vroue wat voor die vonnisverhoor emosionele slagofferverklarings aan regter Alison Nathan gerig het.
Bronne: bbc.com, guardian.com, bloomberg.com, reuters.com, YouTube
- Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in by Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, “Huisgenoot Vandag”.
Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!