Hy is hul trots; ’n plaaskind in murg en been wat daarvan droom om eendag die boerdery by Pa oor te neem. Maar wanneer Janus (39) en Charmaine (38) Taljaard so na hul woelige seun kyk, krimp hul harte soms ineen.
Want in hierdie wêreld van dreunende trekkers, skerp implemente en doringdraad kan selfs die geringste stampie Hannes (12) se vel breek en wonde veroorsaak. En Hannes dring daarop aan om volkome boerseun te wees.
Van trekkers bestuur en perd ry kan jy hom niks vertel nie, en hy het alreeds sy eie mielielande hier op die plaas naby Odendaalsrus in die Vrystaat geploeg en geplant.