Haar Mini-Majesteit – die tweejarige wat die koningin perfek nageboots het

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dié skattige kleuter het koningin Elizabeth se aandag getrek.
Jalayne Sutherland het onlangs ’n brief van die ko
Jalayne Sutherland het onlangs ’n brief van die koningin ontvang nadat sy soos die monarg vir Halloween aangetrek het. Foto's: Facebook/Gallo Images/Getty Images

Die tweejarige Jalayne Sutherland van Kentucky in Amerika het onlangs ’n brief van koningin Elizabeth oor haar koninklike uitrusting ontvang.

Dit kom nadat die kleuter se ma, Katelyn Sutherland, haar in ’n blou oorknoopjassie met bypassende hoed en pêrels vir Halloween aangetrek het.

Om die uitrusting af te rond, het Jalayne se geliefde corgi’s, Rascal en Jack, langs haar vir die foto poseer.

“Die grootste inspirasie vir die uitrusting was die feit dat ons honde ons dogter se beste vriende is,” sê Katelyn.

“Ons wou iets doen waar hulle ingesluit kon word. Ons is beslis aanhangers van die koninklike familie en bewonder die koningin.”

Toe Jalayne by huise aangeklop het om lekkers te versamel, het die meeste mense ’n kniebuiging gedoen, vertel haar trotse ma.

“Ons het baie komplimente gekry, maar my gunsteling was wanneer mense vir haar gebuig of die koninklike wuif gedoen en haar as “Haar Majesteit” aangespreek het!”

Die kleuter het die koningin se wuif perfek nageboots – iets waarop haar ma en pa, Aaron, baie trots is.

“En sy verwag beslis om soos ’n prinses behandel te word – of eerder ’n koningin,” sê Katelyn.

Katelyn was geïnspireer om die koningin te kontak nadat sy ’n foto van haar dogter op sosiale media gedeel het.

“Dit het ontplof,” sê sy. “Baie mense het uitgereik en gesê: ‘Jy moet ’n manier vind om die koningin die foto te laat sien.’”

En sy het toe besluit om die foto’s van Jalayne saam met haar geliefde corgi’s aan die koningin te stuur. Sy het nie ’n antwoord verwag nie, “want dit was die week toe die koningin nie gesond was nie,” sê Katelyn.

“Ons het niks gehoor nie, tot twee dae ná Kersfees.”

Terwyl hulle deur hul pos geblaai het, het die verstomde ouers afgekom op ’n koevert gemerk Royal Mail.

In haar brief aan Jaylayne skryf die koningin haar
In haar brief aan Jaylayne skryf die koningin haar uitrusting is uitstekend. Foto: TikTok

“Die koningin wil jou bedank vir jou brief en die ingeslote foto,” lui die brief van die koningin se hofdame Mary Morrison.

“Haar Majesteit het gedink dis baie gaaf van jou om vir haar te skryf, en die koningin was baie ingenome met die foto van jou dogter, Jalayne, in haar pragtige uitrusting.”

Hulle is in die wolke oor die brief, sê Katelyn. “Dis iets wat ons vir altyd sal koester.”

Sy is reeds besig om Jalayne se Halloween-kostuum vir vanjaar te beplan en sê Meghan, die hertogin van Sussex, is ’n gunsteling.

Intussen hoop sy haar dogter se foto’s sal aanhou om vir mense vreugde te bring.

“Dit was wonderlik om te hoor hoe die foto mense opgebeur het te midde van al die negatiwiteit in die wêreld.”

Bronne: Daily MailMirrorInsiderDayton Daily News

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees