Sy het met haar hande in die hare gesit oor haar dogter wat kla dat sy by haar laerskool geboelie en uitgetart word – en dít deur haar ekskêrel se nuwe meisie.
Toe besluit ’n ma van Potchefstroom in Noordwes om in te gryp, maar op ’n manier wat die tonge op dié rustige studentedorp los het, op ’n tranedal in die plaaslike polisiekantoor uitgeloop het en moontlik nog in die hof gaan draai.
Midde-in die storm is drie ontstelde 13-jariges en hul befoeterde ouers, ’n liefdesdriehoek, ’n swetterjoel briewe met lasterlike bewerings, beskuldigings oor afknouery en ’n verdagte pakkie.