
Dis nou nie juis jou tipiese romantiese rympie oor die liefde nie, maar as jy dié Valentynsdag enkellopend is met ’n wrok in jou hart, kan jy ’n grillerige kakkerlak na jou eks laat vernoem.
Die San Antonio-dieretuin in Amerika bied ’n spesiale Valentynsdag-aanbod vir dié wie se hart in stukke gebreek is deur hulle voormalige geliefdes.
Hoe werk dit? Wel, vir R170 sal die dieretuin ’n kakkerlak na jou eks vernoem en dit op Valentynsdag vir een van hul diere voer.
En ja, jou eks gaan weet dat hulle as kakkerlak opgevreet is, want die dieretuin stuur ’n aflaaibare sertifikaat met hul naam op wat hulle hieroor inlig.
In 2022 was die mees gewilde name van gehate ekse Jacob en Sarah. “Wie gaan dié jaar se kakkerlakke wees?” wil die dieretuin weet.
Verlede jaar het hulle meer as 8 000 skenkings van al 50 state en meer as 30 verskillende lande ontvang, sê Cyle Perez, die dieretuin se direkteur van openbare betrekkinge.
“Op die oomblik is ons op pad om verlede jaar se rekord te verbeter, met ‘Zach’, ‘Ray’ en ‘Adam’ wat die name is wat tot dusver die meeste ingedien is,” sê Cyle.
Mense van regoor die wêreld kan kakkerlake “koop” en dis als vir ’n goeie doel, sê die dieretuin: “San Antonio-dieretuin bied sy Cry Me a Cockroach-fondsinsameling aan, waar fondse wat ingesamel word die dieretuin se visie ondersteun om ’n toekoms vir wild in Texas en regoor die wêreld te verseker!”
Sien, dis als vir ’n goeie doel. En miskien sal dit jou laat beter voel wanneer jou eks as kakkerlak opgevreet is.