Wanneer ’n mens jou kop by die Van Vuurens se spitsdakhuis in Langeberg Ridge, Kaapstad, insteek, verwag jy half om ’n vrolike meisielaggie te hoor. Maar dis tjoepstil en die skoolboeke op ’n werktafel is al teken dat ’n graadeentjie hier woon.
Ná ’n rukkie loer ’n blonde koppie sku by ’n kamer in die gang uit. Dan kom klein Lara (6) agter ons kyk vir haar, en die koppie verdwyn weer vinnig. “Sy is vreeslik menssku,” sê haar ma, Jean-Mari van Vuuren (42). “Ons probeer regtig hard om haar ’n bietjie beter te kry tussen vreemde mense, maar sy sukkel.”
Die Van Vuurens weet al dis beter om Lara tuis te los wanneer hulle winkel toe gaan en om kuiers by vriende te beperk. Maar dis vir hulle geen opoffering nie, want vir ’n tyd was hul wonderkind se lewe in die weegskaal.