Die nuus om sewe is nie juis die plek waarheen jy gaan vir ’n bietjie humor nie. Veral nie deesdae nie, want as dit nie Eskom is wat aankondig nog ’n kragstasie het ingegee nie, is die agenda gewoonlik gelaai met misdaad, korrupsie en wanhoop.
Dit was daarom soos ’n vars bries toe die insetsel van Cynthia de Villiers wat 102 jaar oud geword het onlangs in ’n kykNET-bulletin uitgesaai is. Cynthia het vertel haar geheim vir ’n goeie lewe is haar geloof en om haar medemens met goedheid en meelewing te behandel.
“Wees eerlik en moenie slegte dinge doen nie,” was haar raad. “Elke aand wanneer ek gaan slaap, sê ek my gebede, en ek probeer altyd om ander te help.”