Die Oos-Vrystaatse landskap rondom Ficksburg is mooi, maar harde wêreld.
Indrukwekkende sandsteenkranse troon bo die dorp uit, maar veldbrande bring dikwels verwoesting en die winters is bitterlik koud. Dít en ook die paaie vol slaggate en stryd teen swak munisipale dienslewering is genoeg om enige boerefamilie wat hul lewe hier uit die aarde verdien, sterk te maak.
Tog kan die wrede draaie van die lewe eindelik selfs die sterkste hart laat breek. Wanneer ’n mens vandag in die distrik aankom op die plaas Uitkyk heers ’n somber atmosfeer. Groepies mense staan onder die skroeiende son rond en gesels in gedempte stemme.