Hier’s die wêreld se langste vrou – en haar vinger, hande én rug hou rekords

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rekords breek is al tweede natuur vir Rumeysa Gelgi.

Guinness World Records het haar op 215,16 cm verlede Oktober as die wêreld se langste vrou aangeteken.

In 2014 – toe sy net 18 jaar oud was – is Rumeysa as die langste tiener aangewys toe sy 2,13 m in haar sokkies gestaan het.

En nou het sy nog drie rekords agter haar naam:

  • Langste vinger vir ’n lewende vrou: 11,2 cm
  • Grootste hande vir ’n lewende vrou: Haar regterhand is 24,903 cm en haar linkerhand 24,26 cm lank
  • Langste rug vir 'n vrou: 59,90 cm

Die rekords het Rumeysa gehelp om mense oor haar toestand, weaversindroom, bewus te maak en positiwiteit daar rondom te versprei.

Rumeysa Gelgi
Rumeysa Gelgi. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die 24-jarige is so lank weens dié uiters seldsame toestand, wat versnelde groei veroorsaak en gewoonlik voor geboorte begin. Rumeysa is ook met skoliose gebore. 

“Ek is gebore met uiterste fisieke uniekheid,” skryf Rumeysa op Instagram. “En wou soveel as moontlik daarvan erken en vier, in die hoop om ander met sigbare verskille te inspireer en aan te moedig om dieselfde te doen en hulself te wees.”

Die Turkse vrou sê sy is trots op haar rekords.

Rumeysa Gelgi
Rumeysa is die langste vrou in die wêreld. Foto: Getty Images/Gallo Images

Toe sy as die wêreld se langste tiener aangewys is, het sy gesê: “Dis een van my grootste drome om hierdie rekord op te stel.

“Dis ongelooflik om ’n rekordhouer te wees. Ek weet net spesiale mense bereik dit, en ek weet ek is nou een van hulle.”

Dis ook iets waaroor haar familie opgewonde is. “My familie en die mense rondom my is baie ondersteunend,” sê sy.

“Hulle is baie opgewonde en gelukkig vir my.”

Rumeysa Gelgi
Rumeysa het die langste vingers vir 'n lewende vroulike mens. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy maak weens haar toestand op ’n rolstoel staat om oor die weg te kom. Wanneer sy wel opstaan om ’n paar tree te loop, gebruik sy ’n loopraam.

Rumeysa word soms gekonfronteer met afknouery en “’n vreemde gestaar”, maar weier dat dit haar definieer.

“Ek hou daarvan om anders as almal te wees. Dis interessant en laat my spesiaal voel.”

Rumeysa Gelgi
Rumeysa het ook die langste vroulike rug. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Dit bied my ook maklike toegang tot hoë plekke – en om van bo af neer te kyk op mense is ook nie ’n slegte ding nie,” lag sy.

Ondanks die struikelblokke wat sy moet oorkom, probeer Rumeysa om voluit te leef.  Sy geniet dit om te gaan swem en saam met haar gesin uit te eet.

Die langste lewende man is ook van Turkye. Sultan Kösen (39) is 2,43 m lank en het ook die rekord vir die grootste hande – elkeen is 28,5cm lank.

“Ek het nooit gedink ek sou in die boek wees nie. Ek het gedroom daaroor, maar dit was steeds ’n groot verrassing,” sê hy oor die rekord.

BRONNE: National Organisation for Rare Disorders, Guinness World Records, CNN, Huffington Post

  • Moenie enige groot nuus misloop nie! Vir boeiende nuus oor bekendes en aangrypende mensestories, teken in op Huisgenoot se daaglikse nuusbrief, Huisgenoot Vandag.  
Teken hier vir ons nuusbriewe in:

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in 

Jongste uitgawe

18 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in