Die plesiervaart was die ervaring van ’n leeftyd – maar nie op die manier wat enige passasier verwag het nie.
Talle aan boord van die Diamond Princess het plek op die vaart van 29 nagte van Singapoer na Japan via Viëtnam, Hongkong en Taiwan bespreek om troues, herdenkings en mylpaalverjaardae te vier.
Die skitterende wit agttienverdiepingplesierboot was volgens die brosjure die “juweel van die see”. Gaste sou in aanddrag by die kaptein se tafel kon aansit, in ’n Japannese “onsen”-bad kon week, in varswaterswembaddens swem en uit sjampanjefonteine drink.