Huisgenoot-joernalis vertel: 'Dis wat gebeur as jy vir 'n week lank ophou bad en stort'

akkreditasie
Foto: Misha Jordaan
Foto: Misha Jordaan
Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl wou aan eie bas voel of die wetenskaplike wat 13 jaar laas gebad het, nonsens praat oor die voordele daarvan.

’n Hele week lank bad of stort ek nie en laat die bakterieë op my lyf as’t ware marineer, sonder om met seep, water en reukweerder teen hulle oorlog te voer. 

“Sies, regtig?” is baie mense se geskokte reaksie. Maar dr. David Whitlock, ’n Amerikaanse wetenskaplike, het 13 jaar laas gebad of gestort. Hy beweer niemand het nog snuf in die neus gekry nie, selfs nie in ’n toe vertrek nie.

“Waarom rol my perd heeldag in sy eie mis rond?” laat hy hoor wanneer mense hom daaroor uitvra.

In sy navorsing het hy bevind perde doen dit om lewende bakterieë by hul vel in te pers om die goeie mikro-organismes te beskerm wat daar leef. Dit breek onder meer ammoniak af wat sweet laat stink. David (61) het selfs aanspuitbakterieë, AOBiome, ontwikkel om hierdie proses aan te help.

Selfs sonder hierdie hulpmiddel van hom het ek tydens my seep- en deodorantlose dae nie een keer sweet geruik of “klewerig” gevoel nie, al het ek ver ente gestap en trap geklim. Dalk is dit ’n ander storie in die somer.

As jy moet stort, doen dit onder koue water.

Daardie week het my herinner aan die tyd toe ek ’n uitruilstudent was in Beiere, Duitsland. Daar het my gasouers my oor die kole gehaal wanneer ek elke dag wou stort. “Ons het gedink by julle in Afrika is water skaars en so waardevol soos goud,” het hulle gesê en bygevoeg: “As jy moet stort, doen dit onder koue water.”

Ek moet erken ek het wel af en toe skelm die stort se warmkraan oop­gedraai. Destyds was ek nog nie gereed om in my sweterige vel tuis te voel nie. 

Dié keer was dit anders. Ek het my daaraan herinner: Daar is mense in ons land wat nie die voorreg het om ’n kraan oop te draai en hulle met water – wat nog te sê warm water – te was nie; daarom het ek nie gekul nie.

Dagboek van ’n “smerige” vent 

Dag 1

Gister het ek my huismense oor my planne gewaarsku. Maar eintlik is ek bekommerd oor die mense daar buite. 

Ewe skielik sien ek al die advertensies vir deodorant en seep op TV raak. Gelukkig het ek die dag vry en is alleen in die woonstel. Ek weet ek sal darem tot môreoggend toe taamlik lekker ruik. 

Dag 2

Allerhande gesegdes kom by my op, soos: “Bo blink, onder stink.” Ek het my pa se skerp reuksin geërf, maar in die loop van die dag begin ek myself nog nie ruik nie. Tog besluit ek die aand ná werk om in die hoekie heel agter in die bus te gaan sit, net ingeval. 

Dag 3

Op ’n manier begin ek ligter voel, asof daar ’n las van my skouers af is. Ek wen nou elke oggend seker so ’n kwartier, want ek staan nie onder die stomende stort en wakker word nie. 

Dag 4

Ek word wakker met ’n jeukerigheid oraloor. Is my bakterieë besig om aan te teel en meer lewe te kry? Dis seker maar net my verbeelding. 

Op die bus, in die winkels en selfs op straat voel ek soos ’n eilandjie van au naturel wat ronddobber in ’n see van lekkerruik-naskeermiddel en par­fuum. Ek begin veral beknopte ruimtes vermy: ander mense se kantoor, die raadsaal, die hysbak . . . 

Foto: Misha Jordaan

Maar selfs my mees taktlose vriende het nog geen aanmerkings gemaak nie. My hare is darem skoon, want sjampoe is nie vir my taboe nie.

Dag 5

Ek word vroeg wakker en hoor my huismense stort en party bad. Ek raak sommer befoeterd oor al die water en elektrisiteit wat in die pype wegloop. Ek voel die hele dag geïrriteerd en kwaad. 

Tog voel ek oorgehaal om iets – al is dit nie my eie lyf nie – skoon te maak. ’n Gier pak my beet om ons woonstel te spring clean, al is dit wintertyd. En om ons haarlose sfinkskatte, Essie en Grietjie, te bad.

Pieter en Grietjie. Foto: Misha Jordaan

Ons wasmasjien werk al die afgelope paar dae oortyd, want party dae verander ek twee keer van uitrusting om my­self minstens met die vertroostende geur van versagmiddel te omgeef.

Foto: Misha Jordaan

Met die uittrekslag voor ek gaan slaap, voel my lyf, vergeleke met my gesig wat ek elke dag skeer, minder olierig en heelwat gladder en sagter as wat ek onthou. 

Dag 6

Ek merk nie eens meer op dat ek die huis verlaat sonder om eers te stort nie. Al wanneer ek daarvan bewus raak, is wanneer daar mense om my is. Ondanks my skerp reuksin, verbeel ek my eers hier op die laaste twee dae van my eksperiment dat ek nie waffers ruik nie.

Dalk sit dit in my klere. Dis goed om nou vir die eerste keer in ’n lang tyd met my unieke persoonlike reuk kennis te maak wat gewoonlik met sogenaamde “lekkerruikgoed” verdoesel word. Dis iets misterieus, so asof jy ’n geheim herontdek. Die slim mense sê mos dis dié onbewuste, eiesoortige reuke wat mense na mekaar toe aantrek – of nie.

Dag 7

Al my huismaats het griep gekry, maar ek is blakend gesond. Kenners meen as jy nie heeltyd jou eiesoortige gemeenskap
bakterieë afwas nie, versterk dit jou im­muun­stelsel. ’n Groot knop op my rug – ’n verstopte sweetgaatjie wat my dokter wil uitsny – het ook gekrimp.

Dag 8

Om vir die eerste keer weer onder stomende water te staan is ’n luukse. Ek knip dit kort en besluit om nie sjampoe te gebruik nie, want ’n skuldgevoel knaag tog aan my oor al die water en chemikalieë wat ek gebruik. 

Ek het verwag die water gaan vuil van my lyf afloop en in donker poele om my voete opdam. Maar net water met wit seepskuim syfer weg. Terwyl ek afdroog, kom ek agter my spesiale reuk waarmee ek die afgelope paar dae vertroud geraak het, is weg. 

Voordele van geen stort of bad

Hy is altyd in ’n goeie bui, vertel die Amerikaanse wetenskaplike dr. David Whitlock, wat 13 jaar laas gebad of gestort het. Hy het al in vak­tyd­skrifte gelees wanneer ’n mens nie stort of bad nie, het jy hoër vlakke stikstofoksied in jou liggaam. Stres word met laer vlakke daarvan verbind.  Wetenskaplikes soos hy meen moderne higiëne is deels verantwoordelik vir die toename in gevalle van asma, kinderdiabetes en kosallergieë. 

Dr. David Whitlock.Foto: Getty Images/Gallo Images

“Bad of stort met seep wat skuim maak, is inderdaad sleg vir jou vel, maar die ander uiterste van nooit bad of stort, is ook nie goed nie,” sê dr. Suretha Kannenberg, ’n dermatoloog aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe. 

Wanneer jy chemikalieë op jou vel gebruik, soos dié in seep en sjampoe, word die mikrobioom – die ekologiese balans van die mikro-organisme – versteur, verduidelik sy. Gereelde gebruik daarvan kan tot verskeie velsiektes lei. Veral ekseemlyers moet so ver moontlik van seep wegbly, selfs gliseriensepe.

Tog is dit belangrik om stof en sweet sagkens van die vel af te was, sê Suretha.

“Sweet op sigself is ’n prikkelmiddel. Ekseem kan vererger weens sweet. As dit nie ná oefening afgewas word nie, kan ontsteking of infeksie van die haarsakkies volg. Soos met alles in die lewe, is balans die wagwoord.”

Wie bad of stort die meeste?

In ’n wêreldwye peiling deur die navorsingsmaatskappy Euromonitor is bevind Amerikaners stort meer as Chinese, Britte en Japannese, maar nie so dikwels soos inwoners van Brasilië en Colombia nie, wat meer as twee keer per dag stort. 

In ’n studie deur die higiënemaatskappy SCA is bevind Swede is al land waar mans meer geneig is om elke dag te stort as vroue. Afrika is in hierdie peilings geïgnoreer. 

EKSTRA BRONNE: MOTHERBOARD.VICE.COM, HELLOGIGGLES.COM, TREEHUGGER.COM, THEATLANTIC.COM

Jongste uitgawe

9 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees