Jy verwag ’n “Halloeee!” of ’n “Hoeka toeka, ja-ja!” met jou aankoms by haar oopplanhuisie op ’n melkplaas in die Boland. Dis mos met dié woorde uit Carike Keuzenkamp se gelyknamige trefferliedjie dat Aletta Francina de Kock haar vele volgelinge in feitlik al haar gewilde TikTok-video’s groet.
Haar aanlyn karakter is ’n jolige, stylvole, koel “tannie” wat graag in tweedehandswinkels rondsnuffel, maar in lewende lywe is Aletta veel stemmiger in haar tuiste in ’n opgeknapte voormalige melkskuur. Sy beskryf haar trouens as “ ’n lone wolf ” wat nie veel uitgaan nie.
Haar alter ego met dieselfde doopname het in minder as ’n jaar aanlyn naam gemaak as tannie Aletta Francina de Kock en ’n “influenza” geword, soos sy na haarself en ander beïnvloeders verwys. Voor die kamera deel sy raad uit oor alles van dekor tot antieksjiek uitrustings, gewoonlik winskopies uit liefdadigheidswinkels.