Mense rou op ’n hele spektrum van maniere oor die heengaan van hul troeteldiere. Party mense is tevrede daarmee om hul hondjie of katjie bloot in ’n gat in die grond te begrawe. Ander bewaar Wagter of Kiets se assies in ’n sierlike potjie wat tussen die familiefoto’s staangemaak word – amper soos iets heiligs.
Maar vir party mense is selfs die laasgenoemde opsie nie genoeg nie. En dis waar Lauren Namer inkom.
Dié Johannesburgse kunstenaar besef goed watter leemte jou dier se afwesige lyfie in jou lewe kan laat. En daarom stel sy haar dienste beskikbaar om ’n prent of selfs ’n beeld van jou troeteldier te maak wat jy in jou huis kan aanhou – kompleet asof hulle in die vlees dan nog by jou is.