Jong vrou val haar dood terwyl sy TikTok-video maak

akkreditasie
'n Turkse vrou is dood nadat sy van 'n dak afgeval het terwyl sy 'n video vir TikTok verfilm het van die sonsondergang.

Wat veronderstel was om 'n lekker kuier by haar niggie te wees, het tragies geëindig vir Kubra Dogan.

Die 23-jarige Kubra en haar niggie, net bekend as Helen M. (16), het die aand van 20 Augustus omstreeks 19:30 besluit om na die dak van hul familie se woonstel in die Esenyurt-woonbuurt in Istanboel, Turkye, te gaan om die sonsondergang te kyk en TikTok video's te maak.

Kubra en haar niggie Helen kort voor die voorval.
Kubra en haar niggie Helen kort voor die voorval. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Volgens die nuuswebwerf Haberler het die twee niggies ’n ruk lank foto’s op die dak geneem toe 'n dakplaat onder Kubra meegegee en sy  sowat 50 meter vanaf die dak tot in ’n put geval het.

Kubra Dogan.
Kubra Dogan. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Op beeldmateriaal kan gesien word hoe Kubra op die rand van die dak sit voor jy die dakplaat kan hoor breek en sy voor haar verstomde tienerniggie uit sig verdwyn.

Helen het dadelik haar familie geroep en die nooddienste is ontbied, maar paramedici het Kubra op die toneel dood verklaar.

Volgens die nuuswebwerf Sabah beplan Kubra se familie om die dakkontrakteur wat die dakplate geïnstalleer het, te dagvaar. Intussen is haar liggaam aan die familie oorhandig ná ’n lykskouing.

  • Die ondersoek duur voort.  
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees