book-icon Uitgawe 20 Augustus 2020

Brief: Kinders en studente gaan nooit terugkry wat hulle dié jaar verloor het nie

akkreditasie
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Daar is soveel verhale van mense wat die beste van 2020 maak en hul ervarings ook met ander deel. So help hulle om die aanslae van die pandemie die hoof te bied en steeds positief te bly.

Maar ek het empatie met almal wat nie ’n tweede kans gaan kry nie, soos die gr. 1’s wat ’n heel ander onthou van hul eerste skooljaar gaan hê. Dink net hoe ons die grootskoolervaring leer ken het, nuwe maatjies gemaak en pouses ons hart uit gespeel het.

Vanjaar loer hulle oor maskers na mekaar en moet hul afstand hou. Die ouer kinders loop net soveel geleenthede mis. Dit was dalk jou jaar om naam te maak op die sportveld, maar nou is dit neusie verby met al daardie medaljes of sertifikate wat die vrugte van jou harde werk en die bewys van jou vaardighede is.

Vir sommige was dit dalk ’n kans wat net een keer kom. Jong meisies droom van hul matriekafskeid: die rok, die spesiale metgesel en die foto’s om die droomaand vir ewig vas te lê. Sulke kosbare herinnerings.

Jou matriekjaar is die hoogtepunt van jou skoolloopbaan, en ek hoop vanjaar se matrieks sal dit steeds so ervaar.

Eerstejaarstudente beleef net so ’n ongekende jaar. Daar is nie sprake van ’n normale groentjie wees nie. Die inlywings- en koshuisgeleenthede en sêraande sal nie deel van hul onthou wees nie. Ons wat al die geleenthede gehad het, het dit as vanselfsprekend aanvaar en nooit besef dit was ’n voorreg nie.

Die toekoms sal nooit vas en seker wees nie; daarom moet ons dankbaar wees vir alles wat ons het en wat ons kan en mag doen in dié tyd van die “nuwe normaal”. 

– Mildre

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees