"In die strate van Kakamas in die Noord-Kaap was daar vryheid vir ’n kind om groot te word. Jy kon in die straat speel en na jou maatjie loop wat 3 km ver is en dit was fine.
Ek het in ’n liefdevolle huis en hegte gesin grootgeword. Ons ouers was baie besig in daai tyd om hul besigheid te bou. Hulle doen verkoeling en bou koelkamers. Maar hulle het vir my en my sussie, Wilma, wie sewe jaar ouer is, die ruimte gegee om ons self by die huis te vermaak.
Ek onthou ek het my ma baie gebel en gesê ek is verveeld. Dan sê sy vir my, kry vir jou iets om te doen. Hulle het my toegelaat om pannekoek of koek te bak. Daar was baie blomme in ons tuin, maar ook nie regtig nie, want dit was als afgeknip deur my en dan in potjies gerangskik regdeur die huis.