Daar is ’n paar vroue wat saam met hulle mans deeltyds betrokke is by wedvlugduiwe as ’n stokperdjie, of dogters saam met hulle pa’s. Maar vroue wat alleen duiwe teel en vlieg? Nie so baie nie.
Behalwe ek, weet ek maar van nog net twee ander vroue in die land wat heeltemal op hulle eie boer en aktief aan wedvlugte deelneem. Ek dink die meeste vroue wil inkopies doen en hulle besig hou met make-up en modes, maar daarin stel ek nie belang nie.
Dis eintlik hartseer dat so min vroue by dié sport betrokke is, want eintlik is duiwe mal oor die sagte stem en persoonlikheid van ’n vrou. Dit kan wees dat hulle bang is dat die mans kwaad sal word as ’n vrou wen. Bygesê, my duiwe wen baie, en niemand was nog vir my kwaad nie. Ek het omtrent so 250 duiwe in totaal. Dit is nou teelduiwe en kuikens ingesluit.