Ek het 600 vlugte vir die Rooi Kruis gedoen. Dis twee jaar lank, elke dag, en baie daarvan was in die nag. Aan die begin het ek ’n bietjie verlof gevat en meer gevlieg, die laaste jaar effens minder.
By die AMS (die Suid-Afrikaanse Rooi Kruis se “Air Mercy Service”) vlieg jy met ’n gesofistikeerde vliegtuig, dikwels in ’n komplekse omgewing – dit was ’n fantastiese geleentheid, en ’n unieke platform om my passie vir vlieg uit te leef. Ek vlieg al van 1986 af.
Toe ek klein was, het my pa my een keer Fisantekraalvliegveld toe gevat. Daar het ek vir die eerste keer ’n vliegtuig sien vlieg, en dit was nogal vir my ’n ding, maar daar was nooit ’n oomblik wat ek gedink het ek moet nóú vlieg nie. Ek was al in my vyfde jaar medies toe ek besluit het dis tyd.